POLOKWANE. – ‘n Leerder (17) in gr. 11 aan Hoërskool Rakodubana het glo Woensdag 20 September omstreeks 20:00 vir Eliya Phago (17), ‘n medeleerling in dieselfde graad as hy, na ‘n argument by ‘n snoepwinkel in Galakwena-woonbuurt gesteek. Phago is daarna dood.
Kol. Malesela Ledwaba sê die oorledene is na bewering tydens die argument met ‘n skerp voorwerp in die bolyf gesteek voordat die verdagte gevlug het. Die oorledene het met aankoms by ‘n hospitaal aan sy beserings gesterf.
Die Tinmyne-polisie is verwittig, waarna ‘n soektog na die beweerde verdagte van stapel gestuur is.
Familie van die verdagte het hom Donderdag aan die polisie oorhandig. ‘n Probasiebeampte was tydens sy inhegtenisneming betrokke.
Die verdagte sal na verwagting vandag vir moord in die Mahwelereng-landdroshof verskyn.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



