Waarskuwing! Foto aan onderkant van berig, nie vir sensitiewe lesers nie!
PAARL. – Handré Fourie (17) van Wellington het Saterdagoggend tydens die fondsinsameling, Philidelphia Funduro, beide sy polse in ‘n ongeluk met ‘n veldfiets vergruis. Sy ouers is rasend van bekommernis, aangesien hy met oop wonde wat van sy polse tot by sy elmboë strek in die Paarl-staatshospitaal lê. Selfs die oop spiere kan glo gesien word.
Lydia en Wessel Fourie sê hulle is nie net bekommerd omdat Handré nie gisteraand terwyl hy op die noodteaterlys was geopereer is nie en weer vandag op die noodteaterlys geplaas is. Vir hulle is dit ‘n voldonge feit dat hy teen vanaand al 72 uur met die oop wonde moes wag terwyl hy intense pyn ervaar.
Lydia het vir FiND iT gesê niks kon haar voorberei, nadat sy Saterdagoggend sonder ‘n rede oor en oor vir Handré gesê het om versigtig te wees en sy ‘n speelse tienerantwoord: “Ja Lydia!” gekry het, op die oproep van haar man in wie se stem sy die erns van die situasie kon hoor van Handré wat seergekry het nie.
Wessel het vir Lydia foto’s van die wegspring gestuur en haar plan was om later ‘n draai te gaan maak, maar slegs twintig minute later het sy ‘n ysigwekkende oproep gekry wat sê haar seun het seergekry en ‘n ambulans neem hom na die Mediclinic in Durbanville.
Vrees het oorgeneem omdat sy nie geweet het hoe ernstig hy seergekry het en wat fout is nie.
“Wessel het dit nie gesê nie, maar ek kon in sy stem hoor Handré het baie seer gekry.”
Lydia beskryf Handré was baie deurmekaar met harsingskudding, maar die ergste was toe sy en Wessel kon hoor hoe Handré van pyn skree toe dokters probeer het om sy polse in lyn te kry.
“Ons harte het gebeek.”
“X-strale wys toe altwee sy polse is vergruis.”
Met kommer het die twee ouers gesien hoe hul seun se arms onophoudelik begin swel en ‘n sjirurg in die noodeenheid agterkom daar is groot fout omdat daar kompressie in beide sy arms is wat bloedtoevoer na sy hande afsny en dit dadelik verlig moes word.
“Beide sy arms is toe van sy polse tot by sy elmboë oopgesny.”
Lydia verduidelik sy verstaan Handré is baie lief vir sy motorfiets, maar dat hulle harte dit nie sal hou nie en hulle senuwees gedaan is van die ongelooflike magteloosheid waar hulle in spanning en angs wag vir Handré om geholpe te raak.
“Ek wens ek kan die pyn namens hom vat. Lees net op oor akute kompartementsindroom en jou hart sal breek vir wat my kind deurgaan.”
Dan sê Lydia hulle weet nie meer waar om vir hulp aan te klop nie, aangesien Handré van Durbanville Mediclinic na Paarl-staatshospitaal oorgeplaas is waar sy smeek vir hulp omdat hy in soveel pyn verkeer en die noodgeval nie as nood hanteer word nie.
“Die oorplasing was ‘n nagmerrie. Ons het van die oggend 05:00 vir die ambulans gewag om hom te kom haal. Die aand omstreeks 18:00 sê ‘n dokter hy is bekommerd oor hom omdat hy reeds in die teater moes wees weens die gevaar van infeksie. Ons moes later hoor die ambulans gaan nie leeg ry nie en sal eers deurkom Durbanville toe indien daar nog ‘n pasiënt na Tygerberg toe vervoer kan word. Dit terwyl hulle heeltyd gesê het hulle is op pad, maar beslis nie was nie. Durbanville het vir ons ‘n privaat ambulans gereël en ons was reeds teen 19:00 op pad terwyl alle reëlings as noodgeval reeds deur Mediclinic getref was…en nou wag ons steeds.”
“Met elke gat in die pad het my kind van pyn geskree.”
Met aankoms by die staatshospitaal was die dokter in die teater en moes die bekommerde ouers hoor hulle seun kan geen pynmedikasie of enigiets anders ontvang voordat die dokter hom nie gesien het nie. Die X-strale wat deur Durbanville Medicilinic geneem was, moes ook weer geneem word.
“En terwyl die staatshospitaal alles weer oor ‘moet’ doen, ruk en pluk hulle my kind weer en draai toe maar weer sy arms toe. Met dié wat daar nie ‘n oop teater was nie, is hy ‘n morfien-inspuiting toegedien en die oop wonde aan sy arms skoongemaak. Handré het geskree dat hy gaan flou word van die pyn. “Dit was gedoen om die swelling te verminder sodat hy nie sy hande moet verloor nie.”
Handré is intussen na ‘n saal oorgeplaas, maar die ouers, net soos hulle kind, is erg getraumatiseer vir die pyn waardeur hy gaan en sê hy slaap nie veel nie omdat hy naar is en bly opgooi. Terwyl hy sy beurt vir die teater afwag, word die verbande darem geruil en kry hy steeds nul per mond soos wat die ure aanstap.
“As hulpelose ouers vra ons vir hulp van enigiemand wat Handré kan help. Asseblief, groot asseblief ons weet nie meer waar om te begin nie of wat om meer te doen nie. Die hoeveelheid pyn wat hy het, is ongelooflik. Met wie kan ons daar praat, kan iemand help, ek smeek julle aseblief? Groot asseblief. Kan iemand ons help asseblief?”
Indien enigiemand weet hoe om vir Handré en sy ouers by te staan, kan WhatsApp-boodskappe na Lydia by 082 519 6027 of Wessel by 073 273 1209 gestuur word.
Lydia sê aan FiND iT hulle het reeds ‘n rukkie gelede aansoek gedoen om aan ‘n mediese fonds te behoort, maar dit is nog nie gefinaliseer nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



