Derde verdagte in hof na liggaam van ‘watersoeker’ agter op bakkie gevind is

Deel hierdie storie / Share this story

BRITS. – Gert van der Westhuizen (39) het Woensdag as mede-beskuldigde vir beweerde moord in die Brits-landdroshof verskyn. Hy het borg van R5 000 ontvang en sal weer saam met die ander twee verdagtes op 26 September in dieselfde hof verskyn.

Lt.kol. Amanda Funani het aangedui hy is vroeër vandeesweek in hegtenis geneem nadat die liggaam van Dumisani Phakathi (45) na bewering Sondagoggend deur twee polisielede agter op ‘n bakkie waar dit versteek was, gevind is. Die oorledene is glo aangerand nadat hy water op die mans se plaas wou gaan haal.

Die twee insittendes van die bakkie, ‘n NP 200, genaamd Louis Coetzee (47) en Jaco Kemp (45), is tydens die ontdekking van die liggaam vir beweerde moord in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn. Hulle saak is tot 26 September uitgestel om ‘n formele borgaansoek aan te hoor.

FiND iT het voorheen soos volg berig:

Twee mans, onderskeidelik 45 en 47 jaar oud, is Sondagoggend 17 September 2023 omstreeks 02:00 in Kameeldrift op die R511 vasgetrek met ‘n liggaam van ‘n 45-jarige man agter op hulle bakkie. Die oorledene was glo op die mans se plaas om water te haal en is na bewering aangerand.

Lt.kol. Amanda Funani sê polisielede wat met roetinepatrollies besig was het ‘n steenkoolkleurige Nissan NP 200-bakkie wat verdag voorgekom het, opgemerk.

Die lede het ‘n U-draai gemaak en is agter die bakkie aan, waarna hulle daarin kon slaag om die bakkie met insittendes voor te keer en te deursoek. Tydens die deursoeking is die liggaam van ‘n man, wat met plastieksakke bedek was, ontdek. Die verdagtes het na bewering probeer weghardloop, maar is in hegtenis geneem.

Hulle sal na verwagting vandag vir ‘n klagte van moord in die Brits-landdroshof verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel