PRETORIA. – Bernice West het by die mees onlangse Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings wat vir die vierde keer plaasgevind het, toekennings vir Afrikaanse Liedjie van die jaar met Lyfie, asook vir die Meeste Stromings – Vroulik, ingepalm.
Pretoria FM sê daar is 449 inskrywings vir snitte wat vanaf 1 April 2022 tot 31 Maart 2023 uitgereik is, ontvang.
Wenners is in 17 kategorieë aangewys.
Karlien van Jaarsveld en Jacob Swanne het Luisterliedjie van die jaar met Lief gewen. Dodo Nyoko en Zaan Sonnekus het Nuweling van die jaar gedeel.
Steve Hofmeyr is deur die publiek as My Kunstenaar benoem.
Jannie du Toit is vir 52 jaar se Lewenslange Bydrae vereer.
Morné Steyn en Natasha Joubert het die Aitsas oorhandig.
Steve Hofmeyr het ‘n lied genaamd Aanhou vir die radiostasie wat hul 30ste bestaansjaar gevier het geskryf en met die Aitsas bekendgestel. Pretoria FM spog dus nou met hul eie liedjie.
Willie Spies, die uitvoerende voorsitter van die radiostasie en voorsitter van die Aitsa-Trust, het die toekennings as ‘n hoogtepunt op die Afrikaanse musiekkalender beskryf.
Bernice West het die volgende sosialemediaplasing gemaak:
Liewe Lyfie!!
My hart is vandag vol!
Ek besef net al hoe meer hoe die norm waarde heg aan alles wat aards is… ek besef ook hoe moeilik dit raak om identiteit te vind en te vorm met die druk wat die samelewing daagliks op ons plaas!
JY IS GENOEG
JY IS GEREGTIG OP ‘N KANS IN HIERDIE LEWE!
WANT … DIE HERE SÊ SO!
Lyfie is ‘n ou tradisionele liedjie waarmee meeste van ons oupas en oumas grootgeword het, ons het ‘n nuwe jassie vir hom aangetrek en steeds kon dit jare later soveel grense oorskry en sy eie stem vind!
Dankie vir elkeen wat hierdie liedjie hul eie gemaak het!
Mag jy altyd onthou om dit net te “doenit lyfie, doenit”
Bronne: Pretoria FM en Bernice West Facebook-blad
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



