Hof beveel minister van polisie om Gautengse man R2,6 miljoen te betaal na 813 dae in aanhouding

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: Boer (41) borg geweier vir ondermeer sake van ‘verkragting en mensehandel’

’n Gautengse man, wat ’n voornemende rower uit selfverdediging geskiet en toe van moord aangekla is, is vir meer as twee jaar (813 dae) onregmatig aangehou. 

Ntokozo Patrick Xulu is in November 2018 in hegtenis geneem, nadat hy ’n slagoffer was van ’n roofpoging en sy aanvaller uit selfverdediging doodgeskiet het. Die Gautengse hooggeregshof in Johannesburg het bevind dat sy vervolging onwettig was en het R2,6 miljoen se skadevergoeding aan hom toegeken.

Regter Irene de Vos het verlede week in haar uitspraak gesê dat Xulu se aanhouding sy persoonlike lewe vernietig het. De Vos het gesê Xulu het as slagoffer nie die beskerming ontvang waarop ’n mens sou hoop van die polisie ná ’n poging tot roof nie. Hy is eerder as ’n misdadiger aangehou. De Vos het gesê: “Die aanhouding moes hierdie trauma vererger het. Hy het sy verdienvermoë en sy gesin verloor. Sy vrou het weggetrek en aangegaan met haar lewe, en hy kan nie meer ’n pa vir sy kinders wees soos hy voorheen was nie. Sy aanhouding het sy persoonlike lewe vernietig.”

Die hof het die minister van polisie, Bheki Cele, beveel om R2,6 miljoen skadevergoeding aan Xulu te betaal, en die minister gelas om ook die koste van die regsgeding te betaal.

#Polisie #BhekiCele #Hof #Aanhouding #Gauteng

Bronne gebruik: News24.