Boer (41) borg geweier vir ondermeer sake van ‘verkragting en mensehandel’

Deel hierdie storie / Share this story

ABERDEEN, OOS-KAAP. – Louis Lategan (41) ‘n boer wat van onder meer verkragting en mensehandel beskuldig word, se saak kom weer vandag in die Aberdeen-landdroshof voor. Sy borgaansoek is suksesvol teengestaan.

Luxylo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê borg is nie toegestaan nie weens sy onvermoë om uitsonderlike omstandighede te bewys, omdat hy ‘n vlugrisiko is, met getuienisse sal inmeng en intimideer en die geneigdheid het om skedule 1-misdade te pleeg.

Lategan word deur vyf verkragtingsklagtes, vyf sake van mensehandel, intimidasie en aanranding van ‘n minderjarige met die doel om ernstig te beseer in die gesig gestaar.

Hy het homself op 3 Julie 2023 in die teenwoordigheid van sy prokureur aan die polisie oorhandig.

Die polisie het klagtes van tussen Maart 2020 en April 2023 teen Lategan ondersoek en het alreeds ‘n deursoekingslasbrief en ‘n lasbrief vir kubermisdaad bekom, wat dadelik uitgevoer is

Ses vroue is na bewering onder voorwendsel om babas op te pas of administratiewe werk te doen na sy plase gelok, waarna hulle glo deur Lategan, wat geskei was, bedwelm en verkrag is. Sommige is glo nooit vir werk betaal nie en hy sou dreig om een van hulle wat van die plaas ontsnap het dood te skiet. Sy is blykbaar daarna in ‘n plek van veiligheid geplaas.

Na bewering het hy ‘n negejarige wat hy van Aberdeen-township geneem het om met sy kinders op die plaas te speel met ‘n besemstok aangerand.

Tyali sê verder Lategan het vir sy borgaansoek in ‘n verklaring beken hy was gedurende 2003 vir jag sonder ‘n permit skuldig bevind. Gedurende 2004 is hy aan roekelose bestuur skuldig bevind en gedurende 2006 vir aanranding met die doel om enstig te beseer. Gedurende September 2022 is hy vir ontvoering en seksuele aanranding op Outdshoorn skuldig bevind waarvoor hy ‘n opgeskorte vonnis opgelê is.

Lategan se borgaansoek is van Aberdeen- na Graaff-Reinet-landdroshof geskuif omdat die voorsittende landdros ‘n saak van verkragting van ‘n minderjarige teen Lategan aanhoor, waarvoor hy wel op borg vrygelaat was.

Die saak is vir verdere ondersoek tot vandag uitgestel.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel