Die Demokratiese Alliansie (DA) sal die hooggeregshof in Kimberley vir die tweede keer in net meer as ‘n maand nader om die ANC en EFF se onwettige verwydering van die DA-burgemeester in die Gamagara munisipaliteit, Henriette du Plessis, te beveg. Die DA sal nie toelaat dat die ANC en die EFF die wet breek in hul pogings om beheer van die munisipaliteit te wen nie.
Die hof het voorheen ‘n dringende interdik toegestaan om die eerste onwettige verwydering van die DA-burgemeester, wat op 7 Augustus 2023 plaasgevind het, tersyde te stel. Die DA-burgemeester en die Speaker van die Gamagara Community Forum was heraangestel totdat daar ‘n bevinding in die DA se hofsaak is.
Mosies van wantroue teen burgemeester Du Plessis en Gamagara Community Forum Speaker, Shepard Mines, was die enigste twee items op die raad se agenda vir die vergadering op Woensdag 13 September. Kort nadat die vergadering begin het, is dit deur gemeenskapslede van Olifantshoek ontwrig en die Speaker het dus die vergadering afgelas.
Net soos wat voorheen gebeur het, het die ANC en die EFF toe hul eie vergadering gehou en nog ‘n staatsgreep gepleeg. ‘n Speaker van die EFF en ‘n burgemeester van die ANC, wat nie eens ‘n lid van die uitvoerende komitee is nie, is verkies.
Die optrede van die ANC en die EFF op Woensdag onderstreep hul blatante miskenning van die reg. Dit onderstreep ook die ANC se groeiende desperaatheid om verbete aan mag vas te klou in ‘n gemeenskap waar inwoners toenemend die verskil van ‘n DA-administrasie ervaar het.
Die DA se hofsaak teen die eerste onwettige mosie van wantroue sal op 2 November 2023 hervat. Daar sal mettertyd gekommunikeer word oor die hofsaak vir die interdik.
Die DA sal onwettige magsvergrype beveg en voortgaan om hulp van die howe te soek.
*PERSVERKLARING
Lees ook: Ses dood in Daveyton-massaskietery



