Oorsiginspeksies van water- en sanitasieverwante infrastruktuurprojekte in die Noord-Kaap, wat oor die afgelope twee dae deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) uitgevoer is, het ontbloot dat munisipaliteite en waterbestuursinstellings óf heeltemal uit voeling is met die werklikheid, óf die waarheid probeer toesmeer.
Die burgemeester van Sol Plaatje-munisipaliteit, Kagisho Sonyoni, het ‘n rooskleurige prentjie van die stad se water, riool en verwante infrastruktuur aangebied. Almal wat in Kimberley woon, kan egter getuig dat die stad in krisis is. Hy het aangedui dat Sol Plaatje die stryd teen riool- en waterlekke rondom Kimberley wen, maar op pad na die Riverton Watersuiweringsaanleg was die pad onder water. Groot waterlekkasies langs die N12 is duidelik nie herstel nie.
Sol Plaatje het ook die Gogga-pompstasie in hierdie boekjaar met R20 miljoen opgegradeer. Dit is die derde opgradering sedert 2014, maar riolering bereik steeds nie die Gogga-pompstasie nie omdat die Homevale-watersuiweringsaanleg nie ten volle in werking is nie.
In Kgatelopele is miljoene rande bestee aan nuwe afvalwaterdamme wat deur vloede beskadig is. Die munisipaliteit moet weer van die ou damme gebruik maak.
Dieselfde soort probleme word by ander munisipaliteite bevind.
Infrastruktuur by die Vaal Gamagara-streekgrootmaatwaterskema is verouderd. Water-kapasiteit is 34 miljoen liter maar net 16 miljoen liter water word produseer en die skema sukkel om in vraag te voorsien tydens spitstye. Dit is ‘n probleem wat veroorsaak word deur jare van ANC-wanbestuur en ‘n gebrek aan belegging in die projek.
Die skema verskaf water aan Dikgatlong, Tsantsabane, Gamagara en Joe Morolong munisipaliteite. Baie omliggende gebiede soos Olifantshoek en Barkly-Wes kry nie genoeg water nie, en gaan soms vir dae sonder water. Die grootmaatwaterskema is ook nie in staat om sy finansiële verpligtinge na te kom nie. Die munisipaliteite skuld dit meer as R133 miljoen. Munisipaliteite skuld ook die departement van water en sanitasie ‘n bedrag van R325,140 miljoen se uitstaande skuld.
Benewens bogenoemde was daar ‘n aansienlike toename in die aantal afvalwaterbehandelingsaanlegte wat as kritiek geklassifiseer is, met ‘n merkbare sprong van 27 tot 46. Altesaam 39 watersuiweringsaanlegte is ook in ‘n kritieke toestand.
Die situasie is benard en kan nie ligtelik opgeneem word nie. Tydens oorwegings van die NRVP sal die Demokratiese Alliansie (DA) versoek dat onderskeie burgemeesters en bestuurders voor die NRVP verskyn om hul wanvoorstellings van die waarheid te verduidelik, of sodat ons hulle verantwoordbaar kan hou vir die kritieke toestand van water- en sanitasie-infrastruktuur in die provinsie.
*PERSVERKLARING
Lees ook: AfriForum dankbaar Gautengse LUR vir Onderwys wil selfdood onder leerders bekamp



