BLOEMFONTEIN, VRYSTAAT. – ‘n Man se lewe is met instruksies per telefoon gered nadat hy Maandag 11 September 2023 omstreeks 12:10 deur ‘n mikrogolfoond in sy huis in Wilgehof geskok is.
Sers. Mahlomola Kareli sê die man, wat volgens sy vrou hulle mikrogolfoond getoets het, se lewe is deur ‘n polisieparamedikus gered.
Met ontvangs van die noodoproep by Mangaung 10111-sentrum het AO Johan Maoney die vrou telefonies met instruksies vir KPR (kardio-pulmonêre resussitasie) bygestaan, kalm gehou en moed ingepraat totdat ‘n ambulans opgedaag het.
Die polisieparamedikus het die vrou bygestaan totdat haar man weer begin reageer en asemhaal het. Nooddienste wat opgedaag het, het die man gestabiliseer en na ‘n hospitaal vervoer.
Die vrou het haar dankbaarheid uitgespreek en gesê haar man is besig om aan te sterk.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



