Vermeende aanvaller van oorlede jong man kry nie borg nie

Deel hierdie storie / Share this story

HERCULES, PRETORIA. – Celvin Seaborne (21) wat Saterdag 9 September 2023 in Mountain View in Pretoria dood is se vermeende aanvaller het in die hof verskyn en volgens Charlotte Seaborne, die oorledene se ma, nie borg gekry nie.

Volgens haar sosialemediaplasing sê sy alles in hulle vermoë sal gedoen word sodat geregtigheid sal geskied.

Celvin Seaborne het glo omstreeks 04:50 ‘n bakleiery by die BP-vulstasie op die hoek van Charl Cilliers- en Karel Trichardstraat probeer stop toe hy aangerand en op die toneel dood is.

AO Johan van Dyk het aan FiND iT bevestig ‘n saak van moord word deur die Hercules-polisiestasie ondersoek.

Na bewering was die oorledene en sy meisie saam. Daar het glo ‘n argument tussen die meisie en insittendes van ‘n wit voertuig uitgebreek. Volgens Van Dyk is daar ‘n video-opname en getuies van die gebeure toe Seaborne uit die voertuig geklim het en ‘n aanranding kon afweer. ‘n Geveg het glo aan die ander kant van die motor uitgebreek. Hy het probeer om die bakleiery te stop en is in die proses oorlede.

Die begrafnis vir Seaborne vind Vrydag 15 September vanuit Koinonia Christensentrum, Van der Hoffweg 763, Pretoria-Tuine plaas en sal lewendig gestroom word.

‘n Facebook-blad wat aan FiND iT bekend is, het die beweerde aanvaller se naam en foto geplaas waarna lesers met mekaar in die kommentaar argumenteer. Hierdie is deur Charlotte Seaborne gesien en sy het gevra die plasing moet verwyder word, wat tot op hede nie gedoen is nie. Die betrokke bladsy het ook eers die aanvaller verkeerdelik geïdentifiseer, waarna apologie aangeteken is teenoor die persoon wie se naam aanvanklik genoem is.

Charlotte Seaborne het die volgende plasing op haar eie sosialemediablad geplaas en gesê die hofsaak sal die waarheid na vore laat kom:

“Mag ek asb. vra dat alle kommetaar oor die insident wat Saterdag gebeur het met my seun Celvin Seaborne nie geplaas sal word nie, mense dink hul weet wat gebeur het en gaan op hoorsê en lewer dan kommetaar daarop. Dis hkm daar ‘n hofsaak aan die gang is om die WAARHEID uit te vind. Ek weet dan nie eers presies wat gebeur het nie en dis hkm ek nog geen kommetaar gelewer het nie. Sodra ek wel die WAARHEID weet sal ek dit met almal deel. So asb. moet geen stories glo nie en ook nie oorvertel nie. Asb. julle ek is op al die publieke groepe en dis vir my bitter swaar om alles te lees en ek MAG nie kommetaar lewer of verdedig nie. Die feit bly staan my seun is nie meer met ons nie en die detail rondom dit maak op die stadium nie vir my saak nie want dit gaan hom nie terugbring na my toe nie. Ek deel sodra ek meer weet.”

Bronne: Charlotte Seaborne, SAPD

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel