GQEBERHA, OOS-KAAP. – Dirk Coetsee, HTS Sasolburg (Spanners) se skoolhoof, is in die vroeë oggendure op Vrydag 1 September 2023 deur vermeende gewapende rowers by ‘n selfsorghuis in die been geskiet.
Die skool het ‘n amptelike verklaring uitgereik waarin hulle sê die hoof en nog 10 ander skoolhoofde van die omgewing was by die jaarlikse SAOU-hoofdekonferensie toe die voorval by hulle plek van verblyf plaasgevind het.
Na bewering is selfone en kontant tydens ‘n gewapende roof van die hoofde gebuit. Coetsee is in die been gewond. Hy is vir mediese versorging na St. George’s Life-hospitaal geneem.
Alhoewel die hoofde getraumatiseer is, is geen ander beserings aangemeld nie.
Skoolhoofde van die Vaalrivier-skoohoofdevereninging is vir hulle ondersteuning bedank.
Coetsee se toestand is volgens die verklaring stabiel en sy gemoed is goed, alhoewel hy steeds verdere mediese versorging nodig het wat skanderings, toetse en ‘n moontlike operasie insluit.
“Dankie aan die hele Spanner-familie vir julle ondersteuning en bystand die afgelope paar dae.”
Kol. Priscilla Naidu het die voorval aan FiND iT bevestig en gesê twee onbekende mans het die huis in Wellingtonstraat in Colchester binnegegaan terwyl die mans geslaap het. Terwyl hulle besig was om te steel, het ‘n man (48) wakker geword en geskree, waarna ‘n skoot in sy rigting geskiet is. Hy is in die knie getref. Die verdagtes het met sewe selfone en sewe beursies weggekom.
Geen tekens van geforseerde toegang is gevind nie en die polisie ondersoek sake van huisroof en poging tot moord.
Bron: HTS Sasolburg
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



