Bittereinders staan vroueboere by wat ‘veediewe’ aankeer en in selle eindig

Deel hierdie storie / Share this story

VERKEERDEVLEI, VRYSTAAT. – Janné Smith (28) Lize-Marie Smith (35), Hendrik Steyn (56) en die vroue se pa sal vandag wanneer hulle saak in die Verkeerdevlei-landdroshof voorkom deur die Bittereinders bygestaan word.

Francois van der Merwe van Bittereinders sou reeds vanoggend 07:30 teenwoordig wees en vra die boere en gemeenskap van die omgewing wat bereid is om ook ondersteuning te bied.

‘n Optog vanaf die plaaslike plakkerskamp na die hofgebou is beplan. Hy sê ook hulle vermoed daar sal EFF-betrokkenheid by die optog wees. Brande wat in die dorp voorgekom het, is moontlik na bewering aan die saak gekoppel.

Enigiemand wat ondersteuning wil bied, kan Van der Merwe by 071 753 7683 bel.

Die vroulike boere wat na bewering “veediewe” wou vastrek en toe self in die polisieselle geëindig het, is tydens hulle eerste hofverskyning op 2 Augustus op R2 000 borgtog elk vrygelaat.

Hulle het vlugtig op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, gewone aanranding, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en regsverydeling in die Brandfort-landdroshof verskyn.

FiND iT het voorheen soos volg berig:

Janné Smith (28), Lizamari Smith (35) en Hendrik Steyn (56) het vandag 2 Augustus 2023 vlugtig op klagtes van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, gewone aanranding, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en regsverydeling vlugtig in die Brandfort-landdroshof verskyn.

Kapt. Stephen Thakeng sê die beskuldigdes het elk borg van R2 000 ontvang en die saak is tot 5 September 2023 na die Verkeerdevlei-landdroshof uitgestel.

Speurder.sers. Kenny Malenga van Verkeerdevlei-speurtak ondersoek die saak.

Thakeng sê na bewering het ‘n pa (49) en sy twee seuns, onderskeidelik 13 en 18 jaar oud op 30 Julie 2023 omstreeks 19:00 op die R703-pad van Verkeerdevlei na Excelsior gereis.

Volgens die pa het ‘n Toyota Hilux-bakkie met twee wit vroue hulle glo gestop en uit hul voertuig forseer het.

Hulle is na bewering beveel om op die grond te lê. Die twee seuns het glo gelê, maar hul pa het geweier. Een van die vroue het hom glo aan sy klere gegryp, waarna hulle gestoei het en die pa glo daarin kon slaag om oor ‘n heining te spring en in die rigting van die dorpsgebied te hardloop.

Twee skote is na bewering afgevuur, maar hy is nie getref nie en hy kon die polisiestasie bereik om die voorval aan te meld.

Speurder.sers. Mokone Malinga, speurder.konst. Thabo Moeketsi en sers. Ntombe Mahtlo het na die toneel wat ongeveer 2.5 km ver was, gehaas.

Volgens die polisieverklaring was 10 boere glo met voertuie teenwoordig. Die polisielede het na bewering gevra waarom die twee kinders met kabelbinders vasgebind was. Hulle is glo opgehelp en die kabelbinders is afgesny. Die kinders het aan die polisielede vertel hulle is na bewering aangerand deurdat hulle geskop was. Die seun (13) het glo in sy gesig gebloei en het kneusplekke gehad. Die seun (18) het van pyn waar hy na bewering geskop was, gekla.

Die klaer (pa) se motorsleutel is in besit van een van die vroue gevind.

Die drie verdagtes is op 31 Julie 2023 omstreeks 00:50 in hegtenis geneem.

FiND iT het vroeër vandag berig oor die boere wat “veediewe” gevang het en self in hegtenis geneem is.

Hulle is vandag deur die boeregemeenskap, Willem Petzer en die Bittereinders by die hof ondersteun.

Bron: Bittereinders

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel