Polisie skiet 18 ‘transitorowers’ dood

Deel hierdie storie / Share this story

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT), LIMPOPO. – ‘n Totaal van 18 vermeende transitorowers, wat 16 mans en twee vroue insluit, is Vrydag 1 September 2023 gedurende ‘n skietgeveg met die polisie doodgeskiet. ‘n Polisie-offisier is gedurende die insident ernstig beseer en is vir mediese versorging na ‘n hospitaal geneem.

Brig. Athlenda Mathe het vroeër vanmiddag gesê genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Lebeya, die nasionale hoof van die Valke, en lt.genl. Tebello Mosikili, die adjunk- nasionale polisiekommissaris, het hulle na die toneel gehaas.

Volgens ‘n video-opname sê genl. Masemola die huis behoort aan ‘n Zimbabwiër. Na bewering was die groep vermeende misdadigers van verskillende nasionaliteite en hul beplanning het oor ‘n lang tydperk gestrek.

Verskeie polisie-eenhede, soos die Valke en Spesiale Taakmag, was vir die afgelope dae in hulle ondersoek op die huis gefokus en het vandag opgetree om ‘n misdaad te fnuik.

Die skietgeveg het volgens Masemola ongeveer 90 minute lank geduur.

Die misdaadsindikaat kan moontlik by transitorooftogte in Limpopo, Mupmalanga en Gauteng betrokke wees.

By ‘n huis in Thohoyandou is nog vier vermeende verdagtes in hegtenis geneem. Die polisie het op 10 voertuie en sewe outomatiese gewere beslag gelê.

Misdaadtoneeldeskundiges is besig om die toneel te fynkam.

Volg FiND iT vir video-opnames van die toneel.

Bron: SAPD, Yusuf Abramjee en Mundalamo Ungulani Tshishonge Facebook-blad

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel