Een moord word so vinnig deur die volgende oorskadu as wat dit in Suid-Afrika gepleeg word. Die impak van hierdie misdaad bly egter vir ewig by die familie.
Ek is gister in Pampierstad, tydens my besoek aan die familie van die vermoorde lid van die Kimberley blitspatrollie, konstabel Okaetse Mandindi, aan hierdie wrede werklikheid herinner. Hy is ‘n week gelede saam met sersant Kedimetse Masilo vermoor terwyl hy ‘n verdagte agtervolg het.
Alhoewel ek nie die voorreg gehad het om konstabel Mandindi persoonlik te ken nie, was ek oorweldig deur die emosionele lyding wat sy gesin sedert sy wrede dood verduur het. Hy en sersant Masilo is met SAPD-wapens wat die misdadiger van hulle gegryp het, doodgemaak. Dit is meer as ‘n aanval op individue. Dit was ‘n aanslag op die wet in ‘n toenemend wettelose samelewing, waar misdadigers in beheer is.
Die moorde op konstabel Mandindi en sersant Masilo, en die hartseer wat hul families ervaar, moet nie verniet wees nie. Misdadigers is in oorlog met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en met die samelewing en dit is tyd dat ons begin terugveg om die oppergesag van die reg te handhaaf, ons waardevolle wetstoepassingsbeamptes te beskerm en om inwoners veilig te hou.
Na gister se besoek aan die Mandindi-familie, sal ek weereens ‘n beroep op die wetgewer se portefeuljevoorsitter van Veiligheid, die LUR van Veiligheid, Nomandla Bloem, en die provinsiale polisiekommissaris, genl. Koliswa Otola, doen om ‘n dringende inligtingsessie te reël om kwessies van polisiekapasiteit en hulpbronne in die Noord-Kaap te bespreek, wat wetstoepassing toenemend kwesbaar maak vir aanvalle.
Ons moenie agteroor sit en wag dat nog polisiebeamptes hul lewens verloor nie. Een moord is een te veel.
*PERSVERKLARING
Lees ook: Staat verwerp Nandipha Magudumana se storie oor ontvoering



