UMHLANGA, KZN. – ‘n Man is dood en nog een beseer in ‘n verbyryskietery Maandagaand 28 Augustus 2023 op die Lighthousepad naby Oceans Mall.
Kimberly Liell-Cock sê Medi Response is na die toneel van ‘n gerapporteerde skietvoorval waar gevorderde lewensondersteunende paramedici een noodlottig gewonde persoon aangetref het.
‘n Tweede persoon met veelvuldige skietwonde is gestabiliseer en vir verdere mediese behandeling na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit geneem.
Die twee mans is glo vanuit ‘n verbygaande motor geskiet wat daarna weggejaag het.
Die polisie ondersoek die skietvoorval.
Reaction Unit South Africa het ongeveer 20:34 ‘n oproep vir dringende hulp van dieselfde toneel ontvang en is ingelig insittendes van ‘n silwer BMW het op die insittendes van ‘n tweede silwer BMW geskiet, waarna die een bestuurder teen ‘n lamppaal gebots het.
Met aankoms op die toneel was nooddienste reeds teenwoordig. Die bestuurder van die een voertuig is noodlottig gewond en die passasier in die nek en been.
Volgens Reaction Unit South Africa is verskeie hoëkaliberdoppies op die misdaadtoneel gevind. Die motief vir die skietery is onbekend.
Bronne: Medi Response, Reaction Unit South Africa
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



