BLOEMFONTEIN, VRYSTAAT. – In twee afsonderlike gevalle is ‘n pa (46) en ‘n ma (32) vir kindermishandeling deur die Bloemfontein-landdroshof skuldig bevind en gevonnis.
Sers. Ihobeng Hlubi sê die ouers, wat vir die kinders moes omgee, was hulle “nagmerries”.
In die eerste geval het die pa sy dogter gereeld aangerand, waarna sy op Vrydag 9 Desember 2022 haar lewe probeer neem het. Bure het tot haar redding gekom en die aanranding by owerhede aangemeld. Haar pa is vir aanranding met die doel om ernstig te beseer tot vyf jaar gevangenisstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, gevonnis.
In die tweede voorval het twee tieners moeg en honger by Bloemspruit-polisiestasie opgedaag vir hulp. Daar is uitgevind hulle ma het hulle verlaat. ‘n Saak van kindermishandeling is geregistreer, waarna hulle in ‘n plek van veiligheid geplaas is. Die ma is ‘n vonnis van vier jaar gevangenisstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, opgelê.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



