Onderwyser wat leerlinge aanraak en ‘kielie’ afgedank

Deel hierdie storie / Share this story

Lees ook: Fase 2-beurtkrag ingestel tot 16:00

KAAPSTAD. – ‘n Wiskunde-onderwyser by die Primêre Skool Grassy Park is afgedank na hy vier vroulike leerlinge naby hulle borste aangeraak het. Dit is ook bevind dat hy onbevoeg is om met kinders te werk. Daar word ook gepoog om sy onderwyslisensie opgeskort te kry.

Die voorvalle het in Januarie en Februarie plaasgevind. Een van die meisies (13) het vertel die onderwyser (53) het gekyk of haar klaswerk reg was, toe hy haar onder haar bors “kielie”. Sy het vir hom gesê “Nee, Meneer” want sy was ongemaklik. Sy het getuig niemand het haar voorheen so aangeraak nie en hy het nie weer na die voorval so aan haar geraak nie.

Nog ‘n leerling het getuig sy was besig met haar huiswerk toe die onderwyser haar onder die arm en aan die linkerkant van haar bors gevat het. Sy het getuig sy het eers nie iets daarvan gedink nie, tot sy gehoor het hy het dit met nog meisies gedoen.

Die onderwyser het skuldig gepleit en erken hy het geweet hy mag nie aan die leerlinge vat nie. Hy het gesê hy wou hulle gemaklik maak en het dit vir jare voorheen gedoen en nog nooit klagtes ontvang of gehoor leerlinge is ongemaklik nie.

Die hoof van die skool het gesê die onderwyser is “een van die beste onderwysers wat die skool gehad het” maar hulle gaan sy afdanking aanvaar om ‘n veilige omgewing vir die leerlinge te verseker.

Bronne: IOL, TimesLIVE, VN Explorer

Lees ook: Fase 2-beurtkrag ingestel tot 16:00