PARKTOWN, GAUTENG. – Konst. Martin van der Westhuizen het in die bestek van ‘n kort rukkie ‘n internetsensasie geword met ‘n TikTok video, op 29 Julie 2023 geplaas, wat reeds meer as 200 000 keer gekyk is. Die Gauteng- provinsiale kommissaris se kantoor stel hom met trots voor.
Kapt. Amanda van Wyk sê Van der Westhuizen het op die betrokke dag ‘n begrafnis van ‘n kollega in Vosloorus bygewoon. Hy het Mercy Nous, ‘n sosialemediagebruiker, se oog gevang of soos dit deur die polisie gestel word, is hy bewonder vir die manier hoe hy in sy uniform optree.
Die plasing het talle bewonderaars se kommentaar ontlok, sommige tong in die kies. Boonop het sy naam in die kommentaar verskyn en kon daar vasgestel word hy is iewers in Pretoria gestasioneer.
Van Wyk sê om’n polisieman te word, was vir hierdie polisieman ‘n kinderdroom. Hy het reeds nadat hy matriek voltooi het verskeie keer vir indiensneming aansoek gedoen, wat in 2018 ‘n werklikheid geword het toe hy vir sy basiese opleiding by die Tshwane SAPD-akademie toegelaat is.
Hy spog reeds met twee sertifikate van lof wat gedurende 2019 en 2021 deur die nasionale kommissaris vir uitstaande dienslewering uitgereik is.
En wat sê hierdie polisielid van al die aandag en bewondering? “”I am humbled by the attention – It is an honour to wear a police uniform because it is my calling. It gives me great pleasure to serve and protect my community.”
“Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is verplig om die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika te handhaaf om ‘n veilige omgewing vir almal te verseker. Daarbenewens vereis etiese polisiëring dat ‘n lid tydens die uitvoering van sy of haar pligte met integriteit optree, diversiteit respekteer, die wet gehoorsaam, streef na uitnemende diens en openbare goedkeuring,” sê Van Wyk
Gauteng-polisie, soos ander provinsies in die land, vra persone tussen die ouderdom van 18 en 35, wat in besit is van ‘n matrieksertifikaat, nie ‘n kriminele rekord het nie en ‘n passie het om hul land soos konstabel Van der Westhuizen te dien om voor 31 Augustus 2023 by die polisie aan te sluit.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



