GIYANI, LIMPOPO. – ‘n Vrou (29) is Dinsdag 22 Augustus 2023 vir die beweerde moord op haar babadogter (10 mnde.) asook regsverydeling in hegtenis geneem.
Kol. Malesela Ledwaba sê die beskuldigde, wat ‘n verhuurder is, het glo Saterdag haar kêrel gaan besoek nadat huurders haar uitgevra het oor een van haar kinders wat skielik nie meer teenwoordig was nie.
Die huurders, wat die situasie as verdag gesien het, het Maandag ondersoek ingestel en ‘n vlak graf in die erf opgemerk, waarna die polisie in kennis gestel is.
Luidens Ledwaba is sy opgespoor en het sy glo die vlak graf uitgewys met ‘n verduideliking oor haar babadogter wat gestrem was en as gevolg van siekte gesterf het. Sy het glo besluit om die baba, wie se geboorte nie geregistreer was nie, te begrawe.
Die liggaam is opgegrawe sodat ‘n nadoodse ondersoek gedoen kan word.
Die ma, wat in hegtenis is, sal na verwagting vandag in die Giyani-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



