Vermiste bejaardes in vlak graf gevind

Deel hierdie storie / Share this story

UMGABABA, KZN. – Moni Sophia Xulu (81) en Zanele Doris Mbuso (61) se liggame is Vrydag 18 Augustus 2023 in ‘n vlak graf buite Thembeni-crèche gevind.

Kol. Robert Netshiunda sê die vroue is op Nasionale Vrouedag as vermis by die polisie aangemeld. ‘n Soektog met verskeie polisie-eenhede het na die vlak graf buite die skoolheining gelei.

Netshiunda sê die liggame is begrawe gevind met plastiek oor hul koppe en met tou vasgebind.

“Die slagoffers se kollega, wat as ‘n sekuriteitsbeampte saam met hulle werk, is in hegtenis geneem vir die moorde en het Maandag in die Umbumbulu-landdroshof verskyn.”

Reaction Unit South Africa sê beide die vroue het op Nasionale Vrouedag vir ‘n funksie voorberei wat Donderdag 10 Augustus by die skool gehou sou word.

Na bewering het ‘n sekuriteitsbeampte die twee vroue se families ingelig hulle het vir inkopies vir die funkise in ‘n wit Toyota Avanza, waarvan die registrasienommer en bestuurder aan hom onbekend was, geklim.

Nadat hulle by Umkomaas-polisiestasie as vermis aangemeld is, is die publiek se hulp versoek om hulle te help opspoor. Op Dinsdag 15 Augustus het Xulu se kleinseun Reaction Unit South Africa versoek om met die soektog na die twee vroue te help.

Nadat die SAPD se honde-eenheid die perseel deursoek het, is die liggame naby die skool in ‘n vlak graf gevind en die sekuriteitsbeampte is in hegtenis geneem.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel