Lees ook: Polisiebeampte getuig in Senzo Meyiwa-verhoor
PRETORIA. – ‘n Getuie in die Senzo Meyiwa-verhoor het gesê hy het slegs twee koeëlgate op die moordtoneel gesien.
AO Thabo Mosia het gister in die Noord-Gautengse hooggeregshof getuig hy was verantwoordelik vir die bymekaarmaak en prosessering van die bewysstukke in die Khumalo’s se Vosloorus-huis waar Meyiwa in 2014 doodgeskiet is.
Hy het getuig hy het om 12:20 op 27 Oktober op die moordtoneel aangekom. Van die bewyse wat hulle gekry het, sluit ‘n gebreekte koeël, ‘n hoed en ‘n kierie in. Hy het voorts getuig hy was om 06:00 weer by die huis, want hy moes vroeër loop om na nog ‘n misdaadtoneel te gaan.
Mosia het gesê hy en vier ander polisiebeamptes het ‘n gat, veroorsaak deur ‘n koeël, in die kombuisdeur gesien en nog ‘n gat in die teëlvloer. Een van die koeëls is op die kombuiskas gekry na twee glashouers geskuif is.
Mosia het ook getuig hy kon nie bloed by die kombuisdeur sien nie en slegs die twee koeëlgate is gevind, na ‘n ander getuie beweer het drie skote is gevuur.
Mosia het ook getuig geen vingerafdrukke is van die kombuisdeur geneem nie, want daar is geglo baie mense het die deur ná die skietery gebruik.
Die verhoor gaan voort.
Bronne: The Citizen, IOL, SABC



