GQEBERHA. – Christopher Mentoor (28) Darren Aphew (29) en Winston Clarke (30) is op Dinsdag 8 Augustus 2023 omstreeks 01:10 brutaal in Romanstraat, Booysenspark, Chatty, vermoor. Die polisie het sedertdien drie verdagtes in hegtenis geneem.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê die deurbraak is gemaak toe die ondersoekspan Vrydag 11 Augustus verskeie klopjagte in Bethelsdorp uitgevoer het. Twee mans, onderskeidelik 35 en 37 jaar oud, sowel as een vrou (35) is op aanklagte van moord, brandstiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer, vasgetrek.
Na bewering het die verdagtes die moordhuis binnegegaan en dwelms gesoek. Hulle het glo die slagoffers aangerand en een vrou in haar arm gesteek, terwyl die ander vrou geen sigbare wonde gehad het nie. Die twee vroulike slagoffers was glo buite die huis toe die verdagtes die drie mans binne die huis vasbind, brandstof in die huis gooi en dit aan die brand steek. Al drie die mans het doodgebrand.
Janse van Rensburg sê die moorde blyk bendeverwant te wees. Die drie verdagtes sal na verwagting in die Gqeberha-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



