WAARSKUWING! – Foto’s mag sensitiewe lesers ontstel.
Awie Esterhuizen (71), ‘n diabeet, het gedurende September 2022 as gevolg van gangreen die gebruik van sy regterbeen verloor wat geamputeer moes word.
Christelle Kritzinger, sy dogter, sê aan FiND iT hy het vroeg hierdie jaar, weer as gevolg van gangreen, die helfte van sy linkervoet verloor. Dokters by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal het tydens die operasie ‘n aar in sy been vervang om bloedvloei te bevorder.
Na die operasie het dit goed gegaan en Esterhuizen het twee keer ‘n week na ‘n wondsorgkliniek by Emfuleni Mediclinic in Vanderbijlpark gegaan. Hy het egter ‘n terugslag ondervind toe sy been skielik begin sleg lyk het.
Verdere toetse by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal het ‘n blokkasie in die nuwe aar aangedui en die enigste opsie is om sy linkerbeen ook bokant sy knie te amputeer.
Kritzinger verduidelik hulle is drie susters en sy en een van haar susters is gelukkig naby genoeg om haar ma soms met hul pa en suster (in haar dertigs) wat gestremd is en by hul inwoon, te versorg.
Die amputasie moet so gou as moontlik plaasvind, maar die hospitaal het hulle meegedeel hulle kan Esterhuizen nie opneem nie, omdat daar nie tans plek is nie. Daar is ook geen verwagte datum wanneer hy wel gehelp sal kan word nie.
Sy sê voorts haar pa is in erge pyn en hy kry blasies op sy been waaruit water dreineer.
Hul alternatief is tans om die operasie by Cormed te laat doen, maar Esterhuizen behoort nie aan ‘n mediese fonds nie. Hy moes sy mediese fonds toe hy aftree bedank omdat hy dit nie meer kon bekostig nie. Dokters by Cormed het reeds ingestem om hom te help en hy moet hulle Vrydagoggend 11 Augustus gaan spreek om vas te stel of sy gesondheid goed genoeg is om reeds ‘n operasie te ondergaan. Die familie probeer met ‘n BackaBuddy-profiel om geld in te samel vir sy operasie en enige onverwagte kostes wat daaruit mag voortspruit, te dek.
Christelle sê haar pa moes noodgewonge sy stokperdjies, wat motors opbou en kampering insluit, inboet omdat hy bloedverdunners gedrink het en seerkry vir hom negatiewe gevolge sou inhou. Natuurlik kan hy ook nie meer bestuur nie.
Enigiemand wat hulp en ondersteuning kan bied, kan met die onderstaande skakel na die BackaBuddy-profiel wat vir Esterhuizen geskep is gaan:
https://www.backabuddy.co.za/awie-esterhuizen-5672454055811217187
Die volgende foto’s kan ontstellend wees:

Foto’s: Verskaf
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



