Volgens eNCA sê Ivan Ndlovu, die teleurgestelde pa van Bokgabo Poo (4) hy voel soos die dag wat hy van sy dogter se dood moes hoor. Sy is gedurende Oktober 2022 vermoor en haar liggaam vermink in Wattville gevind.
Ntokozo Khulekani Zikhali (28), die beskuldigde in die saak, is vandag in die hooggeregshof in Benoni weens onvoldoende bewyse onskuldig bevind en vrygelaat.
Bokgabo Poo is op 10 Oktober 2022 ontvoer, verkrag en vermoor voor haar liggaam geskend is. Zikhali het ontvoering beken. Terwyl hy in aanhouding was, het hy sy borgtogaansoek laat vaar omdat hy juis op borg was na nog ‘n klag van verkragting van ‘n 9-jarige meisie. Sy borg in die betrokke saak was herroep.
En nou is hy op vrye voet.
Bokgabo se ouers het haar as vermis aangemeld. Leah Khoza het die volgende dag haar erf gevee en op menslike been afgekom, waarna die polisie gekontak is.
Nog dele van Bokgabo se liggaam behalwe die been is gevind. Haar pa het tydens ‘n vorige hofverskyning gesmeek dat die beskuldigde sê waar die res van haar liggaam is sodat sy begrawe kan word. Haar liggaam was ook gebrand.
Die jong moordslagoffer is op 7 November ter ruste gelê.
Lumka Mahanjana, NVG-streekswoordvoerder in Gauteng, sê Bokgabo Poo het na bewering op 10 Oktober 2022 saam met ‘n 5-jarige seunsmaat in ‘n park in Watville, Benoni gespeel toe die beskuldigde hulle genader het. Zikhali het glo vir die seun geld gegee om suigstokkies te gaan koop en toe die vierjarige Bokgabo saam met hom weggelok.
CCTV-beeldmateriaal van ‘n taverne in die nabye omgewing het gewys hoe Bogkabo saam met Zikhali op die dag van haar verdwyning stap.
Die beeldmateriaal is op sosiale media versprei, waarna Zikhali glo na Boksburg gevlug het. ‘n Petroljoggie by ‘n vulstasie het hom herken en op 14 Oktober aan die polisie uitgewys, waarna hy in hegtenis geneem is.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



