David Rees, bekende SA-akteur, wie se toestand eers as kritiek en onstabiel beskryf is, is moedig terwyl hy steeds in die intensiewesorgeenheid is. Vroeër vandag is op sy Faceblook-blad gesê:
“David remains in ICU, but we’re encouraged to share that doctors report steady progress! His spirits are truly uplifted by the continuous wave of loving messages from fans, friends, and family.”
FiND iT het met Corlia Strauss, Rees se publisiteitsbestuurder, gesels om te hoor hoe dit met hom gaan. Michell Buttle (Rees se suster) het vrae namens sy familie deur Strauss beantwoord.
Rees het verlede Sondag as gevolg van erge arteriële blokkasie ‘n hartaanval gehad, wat Maandag ‘n dubbele hartomleiding tot gevolg gehad het.
Sy geliefdes beskryf die hele ondervinding as traumaties en Buttle sê sy kry ‘n beklemming elke keer as haar foon lui.
Rees was saam met vriende toe hy die hartaanval kry. Hulle het dadelik ‘n ambulans en vir Buttle gekontak.
“Almal was geweldig geskok. Ons is van bakboord na stuurboord gestuur en nà ‘n verkeerde diagnose van ‘n maagseer by ‘n staatshospitaal het ek besluit (na ‘n gesprek met die medikus by intensiewesorg) dat David na ‘n privaat hospitaal met ‘n kardio-eenheid oorgeplaas moet word. Die eerste hospitaal het nie ‘n kardioloog op roep beskikbaar gehad nie en hy is daarna na Milpark-hospitaal gehaas.”
Rees word goed in die intensiewesorgeenheid versorg, waar hy steeds onder die behandeling van verskeie spesialiste en dienste soos fisioterapie, is.
Rees behoort nie aan ‘n mediese fonds nie en alhoewel hy gerus gestel word en daar probeer word om hom kalm te hou, maak die finansiële impak van die privaathospitaalkostes hom angstig.
“Die kostes sover is astronomies. David was nie op ‘n mediese fonds nie en ek moes sover ongevallefooie, dokters, skanderings, bloedtoetse ensovoorts betaal. Die kostes sneeubal daagliks en David sal waarskynlik nog ‘n ruk lank gehospitaliseer wees.”
Dit is nog glad nie bekend wanneer Rees ontslaan sal word nie.
Strauss versoek vriendelik dat die familie se wense in die lig van die gebeure gerespekteer moet word, maar noem dat alle navrae aan haar by 082 546 9128 of by [email protected] gerig kan word.
Caring Daisies het die volgende gesê:
Ons kom vandag na u toe met ‘n versugting. Die geliefde sepie-ster, David Rees, bekend vir sy onvergeetlike vertolking van Chris Welman in 7de Laan, het onlangs ‘n verwoestende hartaanval gehad. Hierdie onvoorsiene gebeurtenis het hom dringend vir die behoefte aan ‘n dubbele oorbruggingoperasie gelaat, wat nie net fisiese nie, maar ook emosionele en finansiële las op hom en sy gesin plaas.
In hierdie oomblik kan ons nie die desperate situasie wat sy gesin nou in die gesig staar, ignoreer nie. Die gewig van oorweldigende mediese uitgawes het op hulle skouers geval en belemmer hulle vermoë om David se herstel ten volle te ondersteun.
Ongelukkig het David nie mediese hulp nie, wat hierdie reeds ontmoedigende reis selfs meer uitdagend maak. Ons vra nederig dat u ‘n helpende hand uitsteek. Geen bydrae is te klein of te groot nie; elke daad van grootmoedigheid tel. U finansiële ondersteuning sal die geweldige druk op David se gesin verlig en hulle die ruimte gee wat hulle so desperaat nodig het.
Saam kan ons ‘n verskil maak. Ons dring daarop aan dat u aan David en sy gesin wys dat hulle nie alleen is nie. As u wil skenk, kan u die Back a buddy-skakel gebruik: [link]. Vir groter bedrae, vra ons vriendelik dat u oorweeg om direk in die Caring Daisies se rekening hieronder te deponeer. Kom ons staan saam as ‘n gemeenskap, as aanhangers, en as vriende. Kom ons staan agter David Rees en sy geliefdes en bied ons ondersteuning op enige manier wat ons kan. Deur eenheid kan ons wonderwerke verrig en lewens verander.
Open asseblief u harte en dra by tot hierdie saak. Versprei die boodskap ver en wyd en laat ons ‘n golf van liefde en ondersteuning skep wat David en sy gesin deur hierdie uitdagende hoofstuk in hulle lewens sal dra. U onwrikbare goedhartigheid sal die wêreld se verskil maak aan iemand wat soveel harte geraak het. Saam kan ons die draaiboek van hierdie storie herskryf en dit verander in ‘n verhaal van veerkragtigheid, hoop en oorwinning.
Dankie vir u medelye en vir die maak van ‘n betekenisvolle impak in die lewe van iemand wat dit die meeste nodig het.
Caring Daisies
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



