‘n Man (32) is Woensdagmiddag in Walmer in hegtenis geneem op aanklag van die moord op die agtjarige Tezlin Lucas.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê lede van die gemeenskap het die verdagte by ‘n stortingsterrein opgespoor en hom begin aanrand voor ‘n sekuriteitsbeampte op die toneel aangekom het.
Die man is na die polisie in Walmer geneem en is in aanhouding. Hy is glo Lucas se ma se kêrel.
Tezlin Lucas (8) se liggaam is op 24 Julie in die Marikana- informele nedersetting, ongeveer 500 m vanaf haar eie huis, gevind.
Women for Change sê die polisie het bevestig Lucas het brandwonde regoor haar lyf gehad, soveel dat haar gesin haar nie kon uitken nie.
Lucas is op 21 Julie laas gesien en haar liggaam is drie dae later gevind.



