Tshwane – briewe uitgereik vir voorneme om af te dank en hofbevel af te dwing

Deel hierdie storie / Share this story

Die Stad Tshwane het 41 briewe aan stakende werknemers uitgereik om hul van voornemende afdanking in te lig. Die hof sal ook gevra word om ‘n tussentydse interdik af te dwing.

Die briewe is gerig aan stakende werkers wat met Samwu geaffilieer is.

Die arbeidshof sal op ‘n dringende basis oor minagting van die hof genader word.

Op Vrydag 28 Julie 2023 het die arbeidshof ‘n tussentydse interdik in die guns van die Stad Tshwane uitgereik wat die staking onwettig en onbeskerm verklaar het. Die interdik het werknemers beveel om uiteen te gaan, en om nie aan die onwettige en onbeskermde staking deel te neem nie, asook om geen aksies uit te voer om dit voort te sit of te bevorder nie. Die stakende werkers is verder enige dade van vernietiging op die eiendom van die Stad Tshwane, privaat of openbaar, verbied. Ook is enige intimidasie van enige stadswerknemers verbied.

Verskeie ultimatums is reeds deur die stadsbestuurder aan hierdie werkers uitgereik om hulle na hul werksplek te laat terugkeer en om hulle te keer om nie-stakende kollegaste te intimideer.

Daar is nie aan die interdik gehoor gegee nie.

Die arbeidshof sal dus weer Donderdag genader word om die tydelike interdik af te dwing wat die polisie magte sal gee om inhegtenisnemings uit te voer.

In die verklaring wat uitgereik is, sê die stad Tshwane die inwoners van Tshwane kan nie deur die stakende werkers gyselaar gehou word deur hul werkende kollegas te verhoed om dienste te lewer nie.

‘n Totaal van 15 werknemers is tot dusver vir openbare geweld in hegtenis geneem. Hulle is ook aan interne klagtes onderworpe.

Die Stad Tshwane vra om verskoning vir die ongerief wat inwoners ervaar.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel