’n Ontvoering en kaping wat vroeër Dinsdag by Reaction Unit South Africa (Rusa) aangemeld is, is glo eintlik gefabriseer.
Om ongeveer 12:23 het Rusa ‘n oproep ontvang van ‘n man wat ‘n kaping aangemeld het wat in Toddstraat in die Verulam-CBD, KZN, plaasgevind het. Volgens die inbeller was hy ‘n passasier in die voertuig toe vier onbekende mans in die motor geklim en saam met die bestuurder weggejaag het. Hy het verder gesê dat hy daarin geslaag het om uit die voertuig te kom. Die man is toe huis toe en het die voorval by sy broer aangemeld.
Vyftien reaksiebeamptes is ontbied om na die voertuig en die slagoffer te soek. Beamptes het onderhoude met motorwagte in Toddstraat gevoer wat ontken het dat hulle enigiets van die voorval geweet het. Rusa-lede het ook na CCTV-materiaal van besighede gekyk wat glo gewys het dat die eienaar van die voertuig vrywillig beweeg het.
Reaksiebeamptes het bevestig dat die bestuurder veilig is en nie ontvoer is nie.
Meer inligting is nog nie bekend nie.



