Dis Wêreldborsvoedingsweek

Deel hierdie storie / Share this story

Wêreldborsvoedingsweek word elke jaar gedurende die eerste week van Augustus gevier.

Die weeklange geleentheid probeer bewustheid skep oor die belangrikheid van borsvoeding vir die behoorlike ontwikkeling van pasgeborenes. Elke jaar fokus die wêreldveldtog op ‘n spesifieke verwante tema. Die tema vir Wêreldborsvoedingsweek 2023 is “Let’s make breastfeeding and work, work!”

Vanjaar se veldtog fokus op die bevordering van praktyke wat kan help om borsvoeding in die werkpkek in verskillende lande te ondersteun. Dit probeer mense en organisasies opvoed wat kan help verseker dat borsvoeding werk vir alle vroue wat werk, wanneer hulle ook al werk.


Volgens die WGO word ongeveer 2,7 miljoen sterftes jaarliks, wat 45% van alle kindersterftes is, met ondervoeding geassosieer. Borsvoeding is ‘n effektiewe manier om gesonde groei en ontwikkeling van die kind te bevorder. Eksklusiewe borsvoeding vir ses maande kan baie voordele vir die baba sowel as die moeder inhou.

In Suid-Afrika word minder as ‘n derde van babas tot op ses maande eksklusief geborsvoed. In gegoede areas soos Johannesburg en Pretoria is hierdie syfer op plekke laer as 10%.

Volgens notasvanmamma.com, wat deur die Arbeidsterapeut, Renate geskryf word, is daar baie voordele wat borsvoed vir mammas en babas inhou:

Voordele vir baba:

  • Borsmelk het ’n kalmerende effek op jou baba – en op jou! Wanneer jy borsvoed, word oksitosien afgeskei wat pyn verminder en jou hartklop verlaag. Daar is niks soos borsvoeding om jou en baba te kalmeer na julle vir 10 minute in die verkeer huis toe gery het en baba bloumoord geskree het nie.
  • Borsmelk verskaf anti-ligaampies wat jou baba help om siektes te beveg. As jy siek is maak jou borsmelk vir daardie siekte anti-liggaampies wat dan aan baba oorgedra word sodat hy nie sommer siek word nie. Ook as jou baba siek is maak jou borsmelk anti-liggaampies om jou baba te help om daardie siekte te beveg. Hoe jou borsmelk weet dat jou baba siek is, is vir my verstommed!
  • Borsvoedende babas het laer kanse vir asma, allergieё, oorinfeksies, diarree en konstipasie.
  • Borsvoeding word ook verbind met hoër intelligensie.
  • Volgens die Amerikaanse Pediatriese Assossiasie (AAP) het borsvoedende babas ‘n laer kans vir wiegiedood.
  • As ’n baba borsvoed is die kanse groot dat hy die regte hoeveelheid gewig gaan optel omdat hy homself nie ooreet aan borsmelk nie. Dit hou verband met ‘n laer risko vir obesiteit en diabetes later in jou baba se lewe
  • Hoe meer jy ‘n pasgebore baba borsvoed, hoe laer is hulle kanse om geelsug te ontwikkel teen dag 6. Geelsug is ‘n baie algemene probleem in pasgebore babas.
  • Borsvoeding help vir baba om sy fokus te oefen. Babas kan by geboorte net ongeveer 20-30cm voor hulle fokus. Die presiese afstand wat hulle ogies van jou gesig af is as hulle borsvoed! En babas word getrek na gesigte toe, hulle is mal daaroor om na jou gesig te kyk!

Nog ‘n paar meer voordiehandliggende en praktiese voordele van borsmelk is:

-Dis goedkoop

– Dis altyd die regte temperatuur

-Dis altyd beskikbaar

-Dis altyd vars

-Omdat jy nie bottels hoef te steriliseer of was nie, het jy meer tyd.

Voordele vir mammas:

  • Dit help jou om vinniger te herstel na geboorte.  Borsvoeding skei oksitosien af wat help om jou baarmoeder te laat saamtrek sodat hy vinniger na sy normale grootte terugkeer en verminder ook na-geboortelike bloeding.
  • Navorsing wys dat borsvoedende babas op gemiddeld 45 minute meer slaap inkry as hulle formulemelk maatjies. Dit beteken meer slaap vir jou ook! En as jy nie dink 45 minute maak ‘n groot verskil nie, dink weer. Glo my, selfs 10 minute se ekstra slaap voel soos ‘n uur!
  • As jy geborsvoed het het jy ’n kleiner kans om borskanker en ovariёle kanker op te doen later in jou lewe.