Boer brutaal vermoor – vier verdagtes vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

Theo Bekker (79), ‘n plaasboer van Grootvlei in Mpumalnga, is Sondagoggend 30 Julie 2023 omstreeks 08:30. brutaal vermoor en sy vrou Marlinda ernstig in ‘n aanval beseer.

Brig. Selvy Mohlala sê vier verdagtes tussen die ouderdom van 16 en 19 jaar is binne twee uur vasgetrek.

Na bewering het die vier verdagtes die oorledene buite die huis aangeval en hom die huis in forseer waar hulle geld en vuurwapens geëis het.

Die egpaar is beide aangerand.

Die huis is geplunder, waarna die verdagtes glo met kontant, drie vuurwapens – ‘n .22-pistool, .38-special rewolwer en ‘n haelgeweer – in die egpaar se Renault Kwid gevlug het.

Die oorledene is met ‘n onbekende voorwerp in sy gesig aangerand, waarvan die beserings tot sy dood gelei het. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Die boervrou is met ernstige beserings vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.

Die polisie is onmiddellik in kennis gestel.

Die voertuig is ongeveer 25 kilometer verder gevind waar dit in Villiers in die Vrystaat gerol het.

Die verdagtes het van die ongelukstoneel gevlug.

‘n Lid van die gemeenskap wat die ongeluk sien gebeur het, het die Villiers-SAPD ingelig en ‘n soektog na die verdagtes is geloods.

Hulle is vinnig in hegtenis geneem. Twee van die gesteelde vuurwapens, die pistool en rewolwer, is in hul besit gevind. Die haelgeweer is na bewering op die ongelukstoneel gelaat.

Die vier verdagtes sal vir moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en roof aangekla word.

Hulle sal na verwagting op Dinsdag 1 Augustus 2023 in die Balfour-landdroshof verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel