Alex McLean (38), ‘n inwoner van Bedfordview in Johannesburg, word as ‘n held bestempel.
RAG (Residents Action Group) in Bedfordview het selfs ‘n sertifikaat vir “Community Hero” aan hom toegeken en boonop amper R50 000 ingesamel om hom ‘n geleentheid te gun om ‘n voertuig aan te skaf nadat vermeende ontvoerders teen sy voertuig vasgery en dit deur versekeraars afgeskryf is.
Sy heldedaad word wyd op sosiale media en in die media geprys.
Maar net Mens Facebook-blad het die storie van hierdie merkwaardige held gedeel.
In wat beskryf word as ‘n geval van op die regte tyd op die regte plek wees, het hy in die ry drie bevreesde skoolmeisies gesien hardloop. McLean het om ‘n draai gery en gesien hoe ‘n meisie om lewe en dood baklei om nie in ‘n motor ingedwing te word nie.
Hy het dadelik reageer en met sy voertuig by hulle gestop, waarna een van die booswigte die skoolmeisie uit hulle voertuig gestamp het. Hulle het probeer wegjaag, maar het in McLean se voertuig vasgejaag. Was dit nie vir skade aan die verkoeler nie, het hy hulle agternagesit.
Hy het na die meisie gegaan en haar teen hom vasgedruk. Volgens wat vertel word, het sy op die grond neergeval en gehuil. McLean het by haar gaan sit en saam met die meisie, ‘n matrikulant van Hoërskool Bedford, wie se lewe hy gered het, gehuil.
Die booswigte het hul voertuig elders gelaat en ‘n veld ingehardloop. Tydsverloop voordat hulp opgedaag het kon hulle laat ontsnap. Sekuriteitsmaatskappye het volgens die plasing hulp verleen totdat die polisie opgedaag het. Melding word gemaak van moontlik gesteelde selfone en ‘n vuurwapen wat in die booswigte se motor gevind is.
Vir McClean, hedendaagse Superman van Suid-Afrika, is heldedade nie iets nuuts nie, hy skroom nie om hulp te verleen nie. Volgens die plasing het hy skaars ‘n maand gelede ook ‘n paartjie wat besig was om beroof te word in sy voertuig ingepluk en hulle na veiligheid geneem.
Lees die volledige plasing deur Leon Cornelius hier onder:
‘n Ware Held
Hier volg die merkwaardige verhaal van Alex McLean, ‘n inwoner van Bedfordview in Johannesburg, se heldedaad.
Alex was vroeër hierdie maand genadiglik op die regte plek en op die regte tyd. Terwyl hy in sy bakkie gery het, sien hy drie skoolmeisies aangehardloop kom. Hulle was duidelik geskok en vreesagtig. En toe Alex om die draai gaan, sien hy iets wat geen regdenkende mens ooit wil sien nie, ‘n matriekmeisie wat hand en tand baklei terwyl sy by ‘n motor ingeforseer word.
Sonder om te wik of weeg, sonder enige gedagte aan sy eie veiligheid, jaag Alex op die motor met die twee booswigte af. Hulle skrik en die man wat besig was om met die meisie te stoei stamp haar uit die motor terwyl die bestuurder probeer wegjaag. Hulle jaag in Alex se bakkie vas en kom toe weg. Hy wou hulle nog agternasit, maar die skade aan die verkoeler was sodanig dat die bakkie nie meer kon ry nie.
Alex het na die meisie gestap en haar teen hom vasgedruk waarna sy op die grond neergeval en begin huil het, op daardie oomblik het hy saam met haar gaan sit en ook begin huil. Hy het haar lewe gered, hy het haar gered van moontlike ondenkbare smarte. In sy eie woorde sê Alex: “Ek het net besluit dat hierdie meisie nie vandag ‘n slagoffer gaan wees nie.”
‘n Ent verder het die gemors wesens hulle motor gelos en in die veld verdwyn. Die polisie het eers ‘n uur en ‘n half later op die toneel gearriveer wat meer as genoeg tyd aan die suurstofdiewe gegee het om te ontsnap. Intussen het verskeie sekerheidsmaatskappye se voertuie darem opgedaag om bystand te verleen aan Alex en die meisie. Daar is ‘n paar gesteelde selfone en ‘n vuurwapen in die verlate motor gevind. Alex se bakkie is deur sy versekeringsmaatskappy afgeskryf en dis die prys wat goeie mense betaal vir uitsonderlike dade. Maar eerder dit, as wat hy niks gedoen het en daardie kind moontlik iewers dood aangetref sou word.
Dit is egter nie die einde van die verhaal oor hierdie merkwaardige man nie. Sowat ‘n maand gelede het hy op ‘n jong Argentynse paartjie afgekom wat besig was om beroof te word. Alex het op die rowers afgejaag en die paartjie by sy bakkie se passasiersdeur ingepluk en hulle na veiligheid geneem. Hy het selfs later teruggekeer na die toneel om te sien of hy nie van hulle besittings kan opspoor nie.
Ja, mense soos Alex McLean is yl gesaai. ‘n Man wat nie skroom om homself in lewensgevaar te stel in vrywillige diens van ander nie.
Hoede gelig vir ‘n ware hedendaagse held, Alex McLean.
Leon Cornelius
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



