Dickason se laaste woorde aan kinders

Deel hierdie storie / Share this story

Dr. Susan Hatters-Friedman, ‘n wêreldekende deskundige oor veral die evaluasie van ma’s wat hul kinders vermoor het, het in die Dickason-saak in die hooggeregshof in Christchurch in Nieu-Seeland vir die verdediging getuig. Sy is ‘n wêreldbekende forensiese psigiater en kundige oor geestesprobleme wat uit infertiliteit, geboorte en daarna, spruit.

Sy het oor die bestek van vier dae vir 10 uur met Dickason onderhoude gevoer.

Aan die begin van haar getuienis het sy definisies, terminologie, nageboortedepressie en motiewe vir kindermoord aan die jurie verduidelik.

Tydens getuienislewering het sy onthul Dickason het gesê sy het gereeld gedagtes en beelde gehad om die kinders te vermoor, maar sy het dit in die weke wat die moorde voorafgegaan het met niemand gedeel nie.

Dickason het van die kere in die verlede wat sy vir haar man gesê het sy het gedagtes om die kinders seer te maak, tydens die onderhoude vertel.

Sy het in 2019 vir haar man gesê sy wil die tweeling stil maak deur miskien ‘n kussing oor hul koppe te sit. Sy wou net vir 30 minute rustigheid en stilte hê, maar het nooit die intensie gehad het om werklik die kinders te vermoor nie.

Hierna het sy nog twee keer haar man oor haar gedagtes om die meisies seer te maak, genader. Haar man het vir haar kwaad geraak daaroor.

Die gedagtes, wat steeds opgeduik het, het sy vir haarself gehou en nie weer met haar man vanweë sy reaksie gedeel nie. Hy het haar laat belowe sy sou niks aan die meisies doen nie en het ook glo vir haar gesê indien iemand haar so sou hoor praat, sou sy opgesluit word en nooit weer die kinders sien nie.

Sy het die gedagtes “weggebêre” omdat dit haar bang gemaak het.

“An image flashed into my head of sedating the girls, putting them in bath, cutting their femoral arteries… and putting them to bed.”

Selfs toe hulle vir die oorsese trek gepak het, het kabelbinders hierdie negatiewe gedagtes ontlok. Sy het dit dadelik gebêre omdat sy bang was oor wat sy daarmee kon doen.

Tydens die onderhoude het sy beken dat sy planne oor selfdood gehad het, maar dat sy bekommerd was om die kinders agter te laat.

Hatters-Friedman sê in die weke voor die trek wou sy nie kommunikeer nie, maar slegs huil. Sy het vir haar vriende boodskappe gestuur sodat sy hulle nie hoef te sien nie.

Dickason het beskryf sy was gedurende die vlug na Timaru angstig, maar hulle was verlig om by hul bestemming aan te kom. In Nieu-Seeland het dit nie beter gegaan nie.

Dickason het haar gevoelens met niemand gedeel nie en in boodskappe aan geliefdes en vriende voorgehou alles was reg.

Dickason beskryf sy het die dag van die moorde alleen en verwyderd van almal gevoel. Sy het gevrees haar man is moeg vir haar en het selfs gedink sy irriteer hom. Toe hy na die funksie vertrek, het sy aan sy arm geraak en hom gegroet. Sy het beskryf sy het gevoel asof dit nie haar eie liggaam was nie.

Die kinders het gespeel en sy is badkamer toe.

“There was so much noise.”

Dickason het gesê sy kon nie meer een dag verduur nie en wou net alles beëindig. Sy het die kabelbinders in die motorhuis onthou en terugflitse van haar gedagtes in SA gehad om dit te gebruik om die meisies dood te maak.

Sy het gedink sy doen die regte ding en het vir die kinders gesê: “Mummy’s very sick and is going to die. I can’t leave you behind because I don’t know who’s going to look after you.”

Dickason het beplan om ook haar eie lewe met die kabelbinders te beëindig, maar toe sy sien hoe lank dit neem, het sy van plan verander. Sy het haar lewe op ‘n ander manier probeer neem.

Sy sê sy het gedink sy wil dit verby hê en dat sy in die hemel en veilig sou wees. Toe sy die volgende dag in die hospitaal wakker word, was sy “in die hel”.

Dickason kon nie onthou dat haar man huis toe gekom en die kinders gevind het nie. Volgens haar het sy nie aan die gevolge van haar aksies gedink nie omdat sy nie gedink het sy gaan leef nie. Dickason het gedink sy doen haar man ‘n guns en was nie veronderstel om wakker te word nie.

“She thought the children would be better off in heaven because she was the worst wife and mother,” het Hatters-Friedman gesê.

Dickason wou hulle net almal by mekaar gehad het en sê sy het die kinders so lief gehad sy kon hulle nie agterlaat as sy die wêreld verlaat nie. Sy het geglo sy het die regte ding gedoen.

Hatters-Friedman is een van drie deskundiges wat vir die verdediging getuig. Twee sal vir die staat getuig.

Die verhoor voor regter Cameron Mander sal na verwagting nog minstens ‘n week voortduur.

Bronne: NZ Herald, 1News en Otago Daily Times

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel