Dickason se prokureur – kinders ‘uit liefde’ doodgemaak

Deel hierdie storie / Share this story

Anne Toohey, prokureur vir die verdediging in die Lauren Dickason-saak, het vir die verdediging se betoë in die hof in Christchurch Nieu-Seeland geopen deur te sê daar is geen dispuut nie dat Dickason die kinders doodgemaak het en toe verskillende metodes gebruik het om ‘n einde aan haar eie lewe te probeer maak.

“Haar intensie was om bed toe te gaan ….. en nooit weer wakker te word nie.”

Drie deskundiges vir die verdediging sal aanvoer dat Dickason nageboortelike depressie ondervind het en haar kinders “uit liefde” doodgemaak het.

Sy het geglo sy doen die regte ding en het hulle “uit liefde” doodgemaak, waarna sy probeer het om haarself om die lewe te bring. Sy wou nie die kinders agterlaat nie.

As gevolg van haar geestestoestand het sy geen hoop gesien nie. Sy het weke na die kinders se dood steeds aan psigiaters gesê dit was die beste uitweg vir die kinders.

Toohey het aan die hof en jurie verduidelik Dickason was so ernstig ongesteld en vir maande in ‘n diep depressie met selfdoodgedagtes.

“Hierdie gaan oor nageboortelike depressie en ‘n ma wat haar kinders doodgemaak het. Sy wou hulle nie sonder ‘n ma los nie en wou hulle nie laat ly omdat hulle ‘n slegte ma het nie.”

Toohey sê Dickason, wat ‘n hoogs intelligente persoon is en as dokter lewens moes red en so hard deur middel van uitmergelende IVF-behandeling probeer het om die kinders te hê, was met nageboortelike depressie gediagnoseer, maar sy het haar voorgeskrewe medikasie in 2021 sonder mediese konsultasieophou drink omdat sy gevoel het dit werk nie meer vir haar nie.

Sy het toe gewig verloor en fikser geword, wat haar beter laat voel het, maar in Julie 2021 het haar geestesgesondheid dramaties verswak. ‘n Bydraende faktor was onrus met plundering naby hul huis in SA. Tydens ‘n elektrisiteitsonderbreking het sy geglo hul gesin gaan vermoor word. Sy moes inperkingstres en drie klein kindertjies by die huis hanteer en boonop die ingewikkelde en tydsame proses om na Nieu-Seeland te emigreer deurgaan. Sy het gevoel sy faal as ma in die tyd wat sy sonder medikasie was.

Nadat Dickason in Augustus 2021 vir haar man vertel het dat sy gedagtes het om die meisies seer te maak, het sy weer haar medikasie begin drink. Die medikasie het tyd nodig gehad om effektief te wees en almal was bekommerd oor haar. Volgens Toohey was ses weke se medikasie toe nie genoeg nie.

Toohey het voorts die kort tydjie in Nieu-Seeland beskryf. Dickason het ophou eet, het nie veel geslaap nie en het belangstelling en vreugde in alles verloor. Sy het aan polisie gesê sy het lank geneem het om eenvoudige take te verrig, algemene simptome van depressie.

Gedurende die week in Timaru het Dickason ‘n kragonderbreking soortgelyk as in SA ervaar, die huis was klein, dit was koud en Toohey verduidelik uit die oogpunt van ‘n depressielyer lyk alles aaklig. Vir Toohey is dit belangrik dat die jurie hierdie dinge wat Dickason ervaar het moet verstaan.

Twee dae voor die moorde het die emigrasie-adviseur meer inligting aangaande Dickason se geestesgesondheid en Karla se gesplete lip, waarvoor sy reeds in SA geopereer is, gevra. Volgens Toohey het die egpaar die kinders die dag van die moorde na ‘n park geneem en tieners wat ook daar was het vir Dickason gesê ‘n man het foto’s van hulle geneem. Toohey sê hierdie twee gebeure het tot die moorde bygedra, omdat Nieu-Seeland nie meer vir Dickason veilig gevoel het nie en haar visumaansoek “hopeloos” gevoel het.

Toohey sê Dicakson was in so ‘n diep depressie en van die werklikheid verwyder, sy het besluit dit sal beter wees as sy dood is en haar dogters saam met haar te neem.

“This was an impulsive decision – she did not plan it.”

Bronne: Newstalk ZB, New Zealand Herald, 1News

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel