Langspeelplaat-liefhebber – hierdie mark is vir jou

Deel hierdie storie / Share this story

Charlie van Eck kan sy liefde vir langspeelplate uitleef en laat voortleef op een Saterdag ‘n maand, ‘n dag waarop kuns en kultuur hoogty vier.

Hy vertel met groot entoesiasme aan FiND iT dat ou gunstelinge op viniel elke laaste Saterdag van die maand by ‘n platemark te Lucky Rodrigo in Lynwood, Pretoria opgeraap kan word.

“Ons herleef ons kindertyd by hierdie mark waar dit van plateliefhebbers wemel wat op soek is na hul gunstelinge in kratte vol langspeelplate.”

Van Eck sê dis prysloos wanneer nostalgie in die mooi van herinneringe wat in ‘n plaat vasgevang is, met ‘n glimlag herleef word.

Hy onthou hoe kassette gekom en gegaan het, CD’s ook vaarwel toegeroep is en selfs MP3-spelers deur hedendaagse selfone vervang is.

Hy vertel van die eerste klank wat in 1877 op ‘n fonograaf opgeneem is met die stem van Thomas Edison wat ‘n kinderrympie Mary Had a Little Lamb” opgesê het.

“Teen 1970 het platespelertegnologie ontwikkel en dit het tot op hede min verander. In 2020 het langspeelplate weereens CD-verkope oortref.”

Van Eck sê die rede hiervoor is tweeledig – CD-verkope het dramaties begin daal en die verkope van langspeelplate het gestyg.

“Daar is iets romanties aan langspeelplate, iets bevredigends daaraan om die albumbaadjie oop te maak, die fantastiese kunswerk te sien en dit te bestudeer terwyl jy na die album luister. Dit is iets wat eenvoudig nie deur vandag se digitale lêers vervang kan word nie. Daar is niks vinnig aan ‘n langspeelplaat nie. Jy kan wel deesdae op jou foon tik en ‘n liedjie op die internet binne ‘n kwessie van sekondes optel. Met ‘n langspeelplaat moet jy dit uit die omhulsel haal, die bokant van die platespeler oopmaak, die langspeelplaat versigtig neersit en die naald se posisie stel. Dan skakel jy die speler aan en wag terwyl daardie warm geknetter die seldsame ervaring voorskryf: musiek as die aktiwiteit, nie as die agtergrond nie.”

Vir Charlie van Eck en sy mede-langspeelplaatliefhebbers is langspeelplate hier om te bly.

Vir meer navrae oor hierdie unieke mark kan Charlie by 079 512 3137 gekontak word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel