Solidariteit het aangekondig hy sal nie ’n salarisooreenkoms wat Kumba Iron Ore op sy lede wil afdwing, onderteken nie.
Dit volg nadat Kumba, as Anglo American se ysterertsprodusent, agteraf met die ander betrokke mynbouvakbonde ’n ooreenkoms bereik het ná die geskilverklaring deur Solidariteit. Kumba wil dit outomaties op Solidariteit se lede van toepassing maak.
“Ons weiering om te teken is ’n beginselsaak. Kumba onderhandel nie in goeie trou nie en dwing ’n ongunstige ooreenkoms op ons lede af. Hy stel onregverdige praktyke in wat tot gevolg het dat sekere kategorieë werkers die verhogings van ander werkers moet subsidieer,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.
Volgens die nuwe ooreenkoms sal geskoolde werkers ’n laer persentasie verhoging as oorwegend semi-geskoolde werkers ontvang. Hierdie praktyk spruit uit die vorige drie jaar loonooreenkoms toe dieselfde onregverdige beginsel deur Kumba toegepas is.
Die nuwe ooreenkoms bied aan werkers op meestal hoër posvlakke verhogings van 6,5%, 5,5% en 5% oor die komende drie jaar. Werkers op laer posvlakke sal verhogings van tussen 8% en 7,5% vir jaar een, en verhogings van 6% en 5,5% vir die twee jaar daarná ontvang.
Du Plessis voer aan Kumba het ook, soos met die vorige ooreenkoms, teenstrydige bewoording gebruik in ’n klousule vir die heropening van onderhandelinge, sou inflasie bo ’n sekere persentasie styg.
Hy glo die klousule het geen bindingsmag nie en is misleidend. Onder die vorige ooreenkoms het dieselfde klousule ’n minimale aanpassing wat ver benede die VPI was, vir sy lede tot gevolg gehad, terwyl ander werkers bo-inflasie-aanpassings gekry het.
“Kumba het, ondanks gunstige resultate vir sy finansiële jaar, tydens die onderhandelinge armoede begin voorhou. Hulle was nie geneë om ’n verhoging in lyn met Statistiek Suid-Afrika (SSA) se inflasiekoers van 7,1% vir die Noord-Kaap, waar Kumba se myne geleë is, vir hul werknemers aan te bied nie.
“Ons lede ervaar daagliks hoe Anglo American ’n beeld uitdra van hoe daar nooit ’n geldelike tekort is as dit by korporatiewe luukshede kom nie, maar wél wanneer verhogings ter sprake kom.”



