‘n Dag na die moorde op die drie dogters, waarvan Lauren Dickason verdink word, het haar man, Graham, aan die polisie gesê dat sy alles vir die kinders gedoen het, maar nie juis liefdevol teenoor hulle was nie.
Dinsdag was die tweede dag van die verhoor in die hooggeregshof in Christchurch, Nieu-Seeland, waar Lauren van moord aangekla word.
Tydens die verrigtinge het die hof na die onderhoud van byna drie uur, wat Graham met die polisie gehad het, geluister.
Volgens Stuff.co.nz het die polisie hom in die onderhoud gevra om Lauren as ma te beskryf, waarna hy gesê het sy het gesorg vir kos, klere ensovoorts, maar dat die dogters, veral die tweejarige tweeling, Maya en Karla, hom altyd gekies het. Liane (6) was al op ‘n staduim wat sy nie veel omgegee het nie. Lauren het ook glo nooit regtig die kinders opgetel nie.
“Ek het nooit gedink sy sal so iets doen nie,” sê die hartseer pa.
Volgens Graham het sy vrou menige kere gesê sy dink nie sy is ‘n goeie ma nie, waarna hy haar probeer oortuig het sy is, maar vandag wonder hy of dit dalk ‘n fout was om haar te laat glo sy is.
Hy vertel ook verder dat sy baie gehuil het en aan depressie gely het. Sy het glo ‘n paar keer ‘n psigiater in Suid-Afrika gesien en hy het geglo “alles is onder beheer.”
Lauren was glo nie ‘n persoon wat baie oor haar gevoelens gepraat het nie en was veral die laaste tyd voor die moorde “‘n baie geslote boek”.
Graham sê hoewel Lauren ook angstig was, het hy nooit gedink sy sou iets skadelik aan die kinders doen nie. Sy het egter aan erge nageboortedepressie gely, veral na die tweeling se geboorte.
Graham vertel ook verder in die onderhoud dat sy “deur baie in haar lewe was” wat glo baie trauma vorentoe veroorsaak het.
“Lauren was in ‘n meisieskool en nie baie gewild nie. Sy was nooit na die matriekafskeid genooi nie en het ook nie baie vriende gehad nie.”
Die gesin het ‘n paar keer hul trek na Nie-Seeland uitgestel, maar toe hulle wel besluit om te gaan, “was die gesin deur baie stresvolle tye”.
Net voor hulle sou verhuis, het die familie positief getoets vir die koronavirus, waarna hulle vir ‘n tydperk in kwarantyn was.
Die hofverrigtinge duur voort.



