Volgens Graham Dickason, pa van die die drie vermoorde dogters, was die dag van die moorde ‘n “doodgewone” dag. Alles was normaal.
Dit was die tweejarige tweeling, Karla en Maya, se eerste dag by die kleuterskool en Liane (6) se eerste dag by die laerskool.
Graham het die oggend die kinders skool toe geneem terwyl Lauren by die huis gebly het.
Graham was by die werk, het middagete saam met van sy kollegas geêet en het die middagna werk huis toe gegaan.
Hy, Lauren en die kinders het na skool na ‘n speelpark gegaan. Hy moes egter die aand weer ‘n werksete bywoon, en het die huis verlaat net nadat die kinders klaar aandete geëet het.
Luidens die NZ Herald het Lauren die kinders reggekry vir slaaptyd.
Graham het na die vergadering teruggekeer huis toe, die deur oopgesluit en sy vrou, “wankelrig”, sonder die kinders, in die kombuis aangetref.
Volgens Graham het hy haar gevra of sy oukei is, waarop sy nie geantwoord het nie. Toe hy vra wat is fout, het sy net gesê: “Dis te laat.”
Graham het eers na Liane se kamer gegaan waar sy met ‘n kombers bedek was. Haar gesig was glo bleek en sy het ‘n kabelbinder om haar nek gehad. Hy het glo ‘n skêr gaan haal en dit afgeknip en haar liggaam op die vloer neergelê.
Hy het daarna na die tweeling se kamer gehardloop en hulle in dieselfde toestand aangetref. Al drie die kinders was reeds leweloos met sy aankoms.
Graham het ‘n kollega om hulp geskakel.



