Man in hof vir ‘besit van 107 gesteelde TV-stelle’

Deel hierdie storie / Share this story

Abrar Jamel Hassen (44) het Woensdag 12 Julie 2023 in die Musina-landdroshof in Limpopo vir die besit van 107 televisiestelle verskyn.

Kol. Malesela Ledwaba sê die man is op 10 Julie omstreeks 14:00 vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom by die Musina China Mall in die Vhembe-distrik in hegtenis geneem.

Na bewering het polisielede wat aan diens was ‘n man wat ‘n TV dra opgemerk. Hy is oor die TV gekonfronteer en kon nie bevredigende antwoorde gee nie. Tydens voorlopige ondersoek is meer as 100 Samsung 32″ televisiestelle in ‘n stoorkamer ontdek.

Die lede het ook TV-stelle wat glo gedurende Oktober 2022 tydens ‘n kaping in Vosloorus in Gauteng gesteel is, gevind.

Die verdagte is onmiddellik in hegtenis geneem en beslag is op 107 televisiestelle met ‘n geskatte waarde van R375 000, gelê.

Lt.genl. Thembi Hadebe het die sukses van die lede geprys.

Die verdagte wat vir die besit van die vermoedelik gesteelde eiendom in die hof verskyn het, is op borg van R10 000 vrygelaat.

Die polisie se ondersoek duur voort.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.