Polisieman met klippe doodgegooi, vier verdagtes vas

Deel hierdie storie / Share this story

Vier verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle glo ‘n polisielid met klippe doodgegooi het.

Simphumeze Mancipa (27), Lungisani Fantein (35), Sibongankonke Gagane (29) en Khanyisa Mdedlwa (29) het almal Maandag vlugtig in die hof verskyn op aanklag van moord.

Die vier-Oos-Kapenaars het glo Saterdag ‘n stryery met AO Inani Mbombo (51) gehad.

Volgens AO Ndiphiwe Mhlakuvana, woordvoerder van die Valke in die Oos-Kaap, was Mbombo eers betrokke by ‘n ander argument met ‘n ander persoon. Hy het die persoon glo met sy dienspistool geskiet.

Die persoon met wie Mbombo die argument gehad het, is nie een van die vier verdagtes nie en Mbombo was nie ten tye van die voorval aan diens nie.

Mbombo het glo probeer vlug, maar is deur ander mense by die taverne agternagesit en gevang. Dis glo toe dat die verdagtes hom met klippe gegooi het.

Die verdagtes bly in aanhouding tot hul weer op 18 Julie in die hof moet verskyn.