Cholera eis reeds 47

Deel hierdie storie / Share this story

Volgens die departement van gesondheid het cholera reeds die lewens van minstens 47 mense regoor die land geëis.

‘n Waarskuwing is aan inwoners in geaffekteerde gebiede gerig om bedag te wees op die water en vloeistowwe wat hulle gebruik.

Dit volg te midde van groeiende oproepe van vakbonde en die burgerlike samelewing vir dringende ingryping.

Intussen sê president Cyril Ramaphosa die regering gaan wette opstel om die waterinfrastruktuur in plaaslike munisipaliteite te help beheer.

Ramaphosa was Maandag in gesprek met die media ná die ANC se vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee.

Hy sê ná die cholera-uitbreking in Hammanskraal het die regering besef dat hulle moet ingryp ná voortdurende mislukkings van die Stad Tshwane om die Rooiwal-afvalwatersuiweringswerke oor die jare te verbeter.

Ramaphosa sê dit behoort van uiterste belang te wees om te verseker dat inwoners skoon drinkwater en infrastruktuur het wat inwoners van sodanige water sal kan voorsien.