Deon Nel (30) wat sedert Donderdag 6 Julie in Wolmaransstad, Noordwes vermis was, is na bewering ontvoer. Twee persone is in besit van wat vermoedelik Nel se besittings is, in ‘n bloedvlekte huis gevind.
Brig. Sabata Mokgwabone sê die twee verdagtes, ‘n man (36) en vrou (30), is Vrydag 7 Julie 2023 in ‘n huis in Randlespark, Klerksdorp deur verskeie polisielede en privaat sekuriteitslede vir beweerde ontvoering in hegtenis geneem. Hulle is glo in die onwettige besit van vermoedelik gesteelde eiendom – ‘n horlosie, klere, hoed, bank- en identiteitskaarte sowel as ‘n selfoon, wat aan Nel behoort – gevind. Met verdere ondersoek is bloedvlekke in die huis ontdek.
Volgens inligting het Nel, nadat hy ‘n plaaslike kroeg besoek het nie teruggekeer huis toe nie en hy is as vermis aangemeld. Nadat ‘n losprys geëis is, is die saak na ontvoering verander.
Intussen is ‘n derde verdagte ondervra.
‘n Soektog na Nel en sy Mazda-bakkie is steeds aan die gang.
Die twee beweerde verdagtes sal na verwgting Maandag 10 Julie 2023 in die Klerksdorp-landdroshof voorkom.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



