Vier wat OTM’e ‘met snyvlam oopsny’ in hof

Deel hierdie storie / Share this story

Simhiwe Mthetwa (41), Mike Mokoena (37), Mario Mashaba (49) en Khula Nicolas Ngogoto (53) het vandag Vrydag 7 Julie 2023 vir die beweerde oopsny van OTM’e met ‘n sogenaamde snyvlam (cutting torch) in die Ficksburg-landdroshof verskyn.

Kapt. Loraine Earle sê die beweerde misdade is in die Thabo Mofutanyana-distrik aangemeld. Polisielede het saam met ‘n finansiële instelling gewerk om die misdade te ondersoek.

Inligting van die beweerde verdagtes wat van Gauteng in die Vrystaat gekom het en van Woensdag sou “misdade pleeg” is op 5 Julie ontvang.

Donderdagoggend omstreeks 01:15 is ‘n sein ontvang dat daar moontlik met ‘n OTM in Manquard gepeuter word. Die ondersoekspan is geaktiveer en die verdagtes het met leë hande gevlug. Die staaldeur was reeds met ‘n snyvlam afgesny.

Met behulp van Ficksburg se sigbare polisiëring is die verdagtes op die R26 tussen Clocolan en Ficksburg opgemerk. Hulle is in hegtenis geneem en toerusting om die misdaad te pleeg, is in hulle besit gevind.

Die polisie het op ‘n 9mm-pistool, snyvlam, handskoene, balaklawas, pype, toue, selfone, ‘n Isuzu-bakkie, byle, maskers, tweerigtingradio’s, tange en kontant, beslag gelê.

Die verdagtes in aanhouding wat van Mpumalanga en Gauteng afkomstig is, is met sake wat in Memel, Excelsior en Marquard waarin dieselfde modus operandi gebruik en aangemeld was, verbind.

Hulle het op vier klagtes van inbrake by ‘n sakeperseel asook die besit van huisbraaktoerusting in die hof verskyn. Die verdagtes sal in aanhouding bly tot hulle weer op 19 Julie vir ‘n formele borgtogaansoek in die hof sal verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.