Na verskeie misdade wat Maandag 26 Junie 2023 op ‘n kleinhoewe by verskeie huise in die Vosman-area in Mmupalanga, plaasgevind het, het een van die beweerde verdagtes homself in die been geskiet. Sy makkers het hom agtergelaat en hy is later in ‘n hospitaal aan sy beserings dood.
Brig. Selvy Mohlala sê na bewering het ‘n groep verdagtes op verskeie huise op dieselfde kleinhoewe toegeslaan. Een van die beweerde verdagtes het ‘n vuurwapen by hom gehad.
Die slagoffers is glo in hul huise oorval, vasgebind en die huise geplunder, waartydens die booswigte geld geëis het.
By een van die huise is ‘n ouerige model wit Jetta geroof, waartydens een van die slagoffers doodgeskiet is toe hy daarin kon slaag om homself los te wikkel.
‘n Kluis met ‘n vuurwapen is by een van die ander huise gebuit.
Slagoffers kon daarin slaag om hulself los te maak.
Volgens inligting het die beweerde gewapende verdagte glo probeer om ‘n beursie uit die Jetta te neem toe hy homself per ongeluk in die been skiet. Sy makkers het op die vlug geslaan en hom agtergelaat.
‘n Jaagtog het tussen die verdagtes en ander slagoffers ontstaan, waarna die verdagtes in ‘n stadium die geroofde voertuig met die gesteelde kluis daarin agtergelaat het en verder te voet gevlug het.
Alle rolspelers was op die toneel en die verdagte is na ‘n hospitaal geneem waar hy aan sy beserings gesterf het.
Volgens Mohlala het die Vosman-polisie sake van besigheidsroof, huisbraak, asook diefstal geregistreer wat ondersoek word.
Enigiemand met inligting van die ander verdagtes kan die Vosman-polisie by 079 891 4822 kontak.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



