‘n Suid-Afrikaanse man is meer as R37 000 se biltong kwyt nadat doeanebeamptes by die Minneapolis Saint Paul- internasionale lughawe in die VSA dit verlede week gekonfiskeer het.
Volgens ‘n verklaring van die Amerikaanse departement van doeane-en-grensbeskerming het die Suid-Afrikaner byna 38 kg se biltong in sy bagasie gehad.
Die passasier het glo aan die beampte gesê hy wil die beesbiltong in sy bagasie verklaar. Die beamptes het X-strale van sy bagasie geneem, en daarna ‘n verdere ondersoek gedoen, lui die verklaring.
Luidens die mediaverklaring het die man toe versoek dat daar nie op die biltong beslag gelê word nie, want dit het meer as R37 000 gekos. Hy is daaraan herinner dat gekookte en gedroogde vleis uit Suid-Afrika beperk is weens dieresiektes, insluitend bek-en-klouseer.
Die biltong is gekonfiskeer en sal volgens die departement vernietig word.



