Vroulike gyselaar gered – twee verdagtes vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vrou (30) is Vrydag 23 Junie 2023 deur die polisie te SanPark in die Vrystaat tydens ‘n oor-en-weer-skietery uit ‘n gyselaarsituasie gered. Die twee verdagtes wat haar as gyselaar aangehou het, is in hegtenis geneem.

AO Mmako Mophiring sê die slagoffer was te SanPark naby die rivier aangehou.

Na bewering was ‘n man en vrou, werknemers van Golden Gate SanPark, aan diens en geknipte drade langs die R714 naby Basotho Cultural Village aan die inspekteer.

Hulle is glo deur twee mans, geklee in balaklawas, genader. Een het na bewering ‘n vuurwapen op hulle gerig en selfone en kontant geëis. Hulle het nie kontant gehad nie en die man is na bewering beveel om geld van ‘n bank te gaan onttrek terwyl hulle die vrou as gyselaar in bosse aangehou het.

Die man wat beveel is om die geld te gaan onttrek het egter die polisie verwittig wat na die toneel is waar die verdagtes takties benader en verras is. Na bewering het een van die verdagtes op die polisie geskiet waarop die polisie teruggeskiet het. Een van die verdagtes is in die been gewond.

Albei die verdagtes is in hegtenis geneem en die vrou, wat nie beseer was nie, is gered.

Selfone van die twee slagoffers is teruggekry.

Die vuurwapen wat deur die verdagtes gebruik is se reeksnommer was afgevyl en die polisie het op die wapen, sowel as ‘n mes beslag gelê.

Die verdagtes is aangekla en sal na verwagting vandag in die Phuthaditjhaba-landdroshof op klagtes van ontvoering, roof en afpersing verskyn.

‘n Saak van poging tot moord is teen die polisie geregistreer waarvan die ondersoek deur Opod behartig sal word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.