Dylan Beukes (10 maande) van Pretoria-Noord in Gauteng het breinskade opgedoen en is gestrem na hy vir verskeie mediese toestande gehospitaliseer was en ‘n hartstilstand gehad het.
Brandon en Jeleen Beukes doen alles in hul vermoë om hul seuntjie te versorg. Mamma is voltydse versorger nadat sy moes ophou werk en Pappa is nou die enigste broodwinner.
Carin Gey van Pittius, Dylan se ouma, sê Dylan kry gereeld epileptiese aanvalle en longontsteking.
Die kleinding het volgens haar verduideliking nie ‘n sluk- of hoesrefleks nie en ‘n tragea is vir asemhaling aangebring omdat sy keelspiere te swak was. Hy moes ook ‘n voedingsbuis ontvang.
Die vertelling ontvou van ‘n normale seuntjie wat goed gevorder het en toe koors gekry het en fisies in sy mamma se arms doodgegaan het. Nou het hierdie seuntjie gespesialiseerde hulp nodig om elke dag te kan funksioneer.
Alhoewel die gesin aan ‘n mediese fonds behoort, word alles nie deur die fonds gedek nie.
Op 13 Maart 2023 is Dylan met ‘n hoë koors hospitaal toe geneem waar hy eers met die Adenovirus en later die RS-virus gediagnoseer is.
“Hy was veronderstel om na ‘n paar dae huis toe te gaan, maar dit het nooit gebeur nie.”
Ouma Carin vertel aan FiND iT dat die ondenkbare gebeur het die oggend wat hy veronderstel was om ontslaan te word.
“Op 16 Maart is sy drup korter gemaak sodat hy gebad kon word, maar dit is nie weer verleng nie. Die oggend van die 17de het hulle die drup weer probeer aansit, maar dit wou nie vloei nie. Daar is probeer om ‘n nuwe drup op te sit, waarna Dylan begin huil het. Mamma het hom opgetel om hom te troos.”
“Hy het blou in sy gesiggie geword. Sy mamma het vir die suster gesê daar is fout, waarna die suster hom gegryp en met hom uit die vertrek gehardloop het.”
In hierdie oomblik het Dylan soos wat vertel word se hartjie gaan staan en moes hy drie keer geskok word in ‘n poging om sy hartklop terug te kry.
“Tydens hierdie geveg om sy hartklop terug te kry, was hy vir ongeveer 30 minute sonder suurstof.”
Hierna was die diagnose van erge breinskade en serebrale verlamming gemaak.
Buiten die tragea en voedingsbuis moes gespesialiseerde kompressiestewels gemaak word om te keer dat sy beenspiere intrek.
“Dylan maak stadige vordering, maar het baie mediese ondersteuning nodig.”
Die kleinding is reeds vyf keer gehospitaliseer, maar is tans tuis nadat hy Covid-19 en longontsteking opgedoen het.
“Hy het spesifieke behoeftes wat gesondheidsorg aanbetref. Die lys van behandeling en toerusting van medisynekriteria groei en verander daagliks om sy mediese behoeftes en nasorg te onderhou.”
Die probleem is dat die mediese fonds nie alles volgens Dylan se spesiale behoefte-kriteria dek nie.
Weens die gebeure moes Dylan en sy familie by sy groothouers intrek om vir Dylan met daaglikse sorg te ondersteun.
“Dit was moeilik vir hulle, maar hulle is elke oomblik van elke dag aan Dylan se sy.”
Indien enigiemand kan bystand gee met Dylan se versorging kan sy BackaBuddy besoek word:
https://www.backabuddy.co.za/dylan-beukes-5560110570148055783
Die Facebook-blad Dylan Beukes n Vegtertjie soos min. kan vir opdaterings gevolg word.
“Nie een van ons gaan op Dylan opgee nie, ons sal aanhou baklei. En vir almal wat reeds bystand verleen wil ons bedank, asook diegene wat hom moontlik kan ondersteun.”
“Elke vriendelike woord, gebed en ondersteuning beteken die wêreld vir ons. Ons kan dit nie alleen doen nie en ons is eindeloos dankbaar vir die vriendelikheid waarmee julle ons almal geseën het.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



