Vier wat borggeld steel, skuldig

Deel hierdie storie / Share this story

Mzikazi Mahlalasa (57), Letitia Mack (49), Yonela Ntsaluba (39) en Nomthandazo Takayi (52) is op 21 Junie 2023 op klagtes van diefstal skuldig bevind. Nondumiso Waxa (45), nog ‘n beskuldigde, is in Maart 2019 oorlede.

AO Ndiphiwe Mhlakuvana, woordvoerder vir die Valke in Gqeberha, sê die beskuldigdes was in diens van die departement van justisie by die kriminele afdeling van New Law Courts waar hulle gemoeid was met die ontvangs van borgtoggeld wanneer borg toegestaan is.

Die misdaad het gedurende ‘n periode van 21 Augustus 2009 tot 29 Oktober 2010 plaasgevind.

Hul pligte wanneer hulle borggeld ontvang het, het ingesluit dat hul kwitansies moes uitreik en die geld op ‘n rekenaarsisteem moes invoeg. Hul moes ook duplikaat kwitansies van die borggeld wat ontvang is aan die klagstate heg.

Die beskuldigdes het wel borgtogkwitansies uitgereik, maar nooit die transaksies op die stelsel vasgelê nie en het die kontant na hul persoonlike rekenings oorbetaal.

Ondersoek deur die Valke het aan die lig gebring dat meer as R92 800 op hierdie manier gesteel was.

Die beskuldigdes is in 2010 in hegtenis geneem en is na verskeie hofverskynings skuldig bevind, waarna hulle op 26 Julie 2023 gevonnis sal word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.