Verdagte oor leeukarkasse in bagasie by lughawe vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Man (43) is Vrydag 23 Junie 2023 op die OR Tambo- internasionale lughawe in Kemptonpark in hegtenis geneem vir die handel in leeubeendere.

Kapt. Bonnie Nxumalo, woordvoerder van die Valke, sê die verdagte is in hegtenis geneem toe Bidvest-sekuriteitsbeamptes verdagte items in sy bagasie ontdek het.

Valke verbonde aan die Economic Protected Resources wat in Germiston gestasioneer is, is van die verdagte vonds in kennis gestel.

Die man se bagasie is oopgemaak, waarop leeubeendere gevind is.

Hy was glo op die punt om op ‘n vlug na Viëtnam via Qatar te klim.

Polisie het op buitelandse valuta, selfone en twee paspoorte beslag gelê.

Tydens voorlopige ondersoek is gevind dat dit die karkasse van vyf leeus is wat in sy bagasie gevind is.

Die verdagte sal aangekla word vir die onwettige handel in wild, die besit van leeubene en die oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur Biodiversiteit (NEMBA).

Die ondersoek duur voort.    

Die Valke, Bidvest Sekuriteit, Misdaadintelligensie en ‘n beampte van die departement van omgewingsake was tydens die inhegtenisneming en voorlopige ondersoek betrokke.

Nog inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.