Chris Chameleon het gistermiddag ‘n plasing op sosiale media gemaak waarin hy ‘n ondervinding wat hy met ‘n winkelsentrum se sekuriteit gehad het, beskryf.
Hy was volgens sy vertelling met kruideniersware op pad uit by ‘n winkelsentrum in Johannesburg toe hy deur ‘n sekuriteitswag voorgekeer is en gevra is om hom terug na die winkel te vergesel.
Nog ‘n beampte het volgens hom bygekom toe hy verset toon.
Chameleon verduidelik dat hy by die bestuurder in sy kanoor sy aankoopstrokie moes toon.
Die uiteinde dat hy met ‘n personeellid wat sy parkering betaal het weer uit die sentrum geneem is.
Sy vertelling eindig met twee dinge wat hy waargeneem het, dat beter opleiding moet plaasvind en die wanpersepsie wat bestaan dat almal hedendaags skelm kan wees.
Lees sy volle plasing hier:
gister, op my pad uit johannesburg terug huis toe, het ek ‘n lewens-eerste beleef. ek was haastig met my stootwaentjie vol kruideniersware op pad uit die winkelsentrum. stop toe naby die uitgang by ‘n laaste winkeltjie, toe ek skielik ‘n swaar hand op my arm voel.
‘sir, you must come with me.’
ek is geneig om hardegat te wees as vreemdelinge hulleself oor my liggaam aanstel. en verset my toe. hy, geklee in sekuriteitsdrag, kry toe bystand van nog n sekuriteitswag en besluit dis hulle roeping om my met dwang terug na die kruidenierswinkel te begelei. ek het nog onontginde en sterk middele vir verweer tot my beskikking gehad, maar gelukkig betyds myself beteuel met die wete dat hierdie twee dwase onder die wanindruk van hulle dienspligtelike gesag optree, en dat alles weldra aan die lig gebring sal word. maar ek was baie haastig en siedend. en hulle wou geen van my vrae oor wat aangaan beantwoord nie (protokol?).
‘you can explain to the manager’
‘it is not i, but you who will have to explain’
ek is maar n bietjie ydel, en die ergste deel van die ervaring was die deur wagte begeleide skandewandeling verby vreemdelinge wat die man met die windmaker snor wat so pas met sy waentjie daar verby gedraf het aangaap.
by die bestuurder in sy kantoor aangekom (aangeboender), kyk ek hom skerp in die oë: ‘you’re making a big mistake’.
en toe, vir die eerste keer, word gevra vir my strokie, m.a.w. die bewys dat ek nie my kruideniersware gesteel het nie. alles klop en eensklaps word die bravado van skyn gesag omskep in beskeie vrees en bykans smekende verskonings. deur die newelige blindheid van my woede kon ek wel sien dat hierdie bestuurder (op sy knieë, en ek bedoel nie figuurlik nie) iets weet van groter gevolge vir hom as wat ek mag dink. dalk sy posisie en, gevolglik, besoldiging? dalk ‘n beperking van promoveringsmoontlikhede? ek weet nie, maar ek kon sien dit was vir hom ernstig (iemand het dalk verklap dat ek meer as 23 volgelinge op twitter en facebook het om by te kla?). hy kry toe een van sy personeellede om my terug uitgang toe te begelei en my parkering te betaal.
‘weet hulle nie wie jy is nie?’ vra hy in afrikaans.
‘dit hoort nie saak te maak nie. maar twee dinge is seker: hierdie mense moet beter opgelei word.
en die eintlike blaam lê by ons samelewing wat so skelm geword het dat almal op hete kole is en almal ander makliker van misdaad verdink. dis ‘n siekte van ons tyd en plek. o, en sê maar vir jou baas ek sal nie die storie opblaas nie, ek sien hy stres erg daaroor.’
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



