Twee toeriste sterf toe kano’s in Krokodilrivier omslaan

Deel hierdie storie / Share this story

Twee toeriste, ‘n man en ‘n vrou, het Sondag 18 Junie 2023 gesterf toe vier kano’s waarop hulle op die Krokodilrivier tussen Lion Park en Hartbeespoortdam was, omgeslaan het.

NSRI sê hul Hartbeespoortdam-tak, SRU (Strategic Rescue Unit) en die SAPD het omstreeks 14:42 na die toneel met beseerdes gehaas.

Daar is vasgestel dat 20 toeriste vanaf Singapoer en ses plaaslike riviergidse op ‘n kano-ekspedisie was, toe vier kano’s met agt toeriste omgeslaan het.

Die riviergidse het KPR op twee toeriste toegepas.

Ses toeriste, mans en vroue, en twee van die ses riviergidse, beide mans, het hulp in die water benodig.

Paramedici het met aankoms op die toneel KPR op die twee toeriste toegepas, maar ten spyte van hul pogings is beide dood verklaar.

Die twee riviergidse is gestabiliseer voordat hulle na ‘n hospitaal vervoer is waar hulle aansterk.

Die oorblywende ses toeriste wat in die water beland het, is gered en op die toneel vir beserings behandel voordat hulle laat gaan is.

Die oorledenes se liggame is deur die regering se forensiese patologiese dienste in hulle sorg geneem.

Twaalf van die toeriste is nie tydens die insident beseer nie.

NSRI het die Lion & Safari Park vir hul ondersteuning geprys.

Die toeroperateur staan die toeriste en hul families in samewerking met owerhede by.

Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.